Dreigende tb-krisis hang oor vallei
2006-11-23
“TB-lyers wat nié hul medikasie neem nie, moet in gevangenisse opgesluit word tot hulle hul kursus medikasie voltooi het.”
Hierdie was een van die voorstelle op die Tuberkulosevereniging se onlangse jaarvergadering op Worcester.
Ivan Anthony, voorsitter van Santa Wes-Kaap het gesê dat dit dalk tyd geword het om meer drasties op te tree en versigtigheid oorboord te gooi en eerder paniek te saai.
“Dis omdat ons ’n pandemie op hande het en dit dalk mense sal dwing om hul medikasie te neem.”
Die houding van TB-lyers sal drasties moet verander om te keer dat uiters weerstandige tuberkulose (XDR-TB of Extensive Drug Resistant TB) in ’n krisis in die Wes-Kaap ontaard.
Hierdie soort Tuberkulose is onbehandelbaar en mense sterf wat hiermee aansteek - een TB-lyer kan tot 15 ander mense aansteek.
XDR-TB het groot opslae gemaak nadat 50 mense in KwaZulu-Natal hieraan gesterf het.
XDR-TB is ’n mutasie van die TB-kiem wat weerstand opgebou het teen die medikasie wat gebruik word om TB te behandel. Die weerstand word opgebou omdat TB-lyers nie hul eerste ronde medikasie voltooi as daar ’n verbetering by hulle intree nie.
’n Weerstandige TB-kiem (MDR of Multi Drug Resistant TB) ontstaan, wat sterker middels nodig het om te behandel.
Wanneer MDR-TB pasiënte wéér voortydig hulle behandeling staak, kom ’n núwe, weerstandige mutasie-kiem na vore. So ’n pasiënt het dan XDR-TB onder lede wat tans heeltemal onbehandelbaar is.
Die koste om siek pasiënte te behandel, plaas astronomiese finansiële druk op gesondheidsdienste en die belastingbetaler. Waar die eerste ronde medikasie per pasiënt sowat R300 beloop, styg die koste tot sowat R26 000 per pasiënt vir die tweede ronde behandeling.
Volgens Magdalene Andrews, bestuurder by Sonstraal Hospitaal in Paarl-Oos, sit die hospitaal met ’n waglys van 18 pasiënte wat wag om toelating.
“Ek weet ook dat daar TB-pasiënte by Paarl Hospitaal is en dat hulle hierheen oorgeplaas behoort te word. Hier is egter nie meer plek nie, omdat die hospitaal vol is en hulle ontvang tans buite-behandeling.”
Die mediese superintendent by Paarl Hospitaal, dr Breslau Kruger, het gesê slegs komplikasies word by Paarl Hospitaal hanteer en word daarna dan terugverwys na die klinieke en Sonstraal.
Andrews sê dat TB-pasiënte nog nie plaaslik getoets word vir XDR nie en daarom is betroubare statistieke nie beskikbaar wat kan aantoon hoeveel mense, indien enige, dit dalk onder lede het nie.
“Dit blyk dat die provinsiale owerhede onkant betrap is met XDR-toetsing.
Andrews het ook gesê dat Brooklyn Chest Hospitaal in Kaapstad moontlik geïdentifiseer gaan word om sulke pasiënte te behandel, maar dat ’n provinsiale besluit nog hieroor geneem moet word.
Sr Susan Meyer by JJ du Pre le Roux kliniek in Huguenot (koördineerder van TB/HIV-Vigs in Drakenstein), het statistiek aangehaal uit ’n onlangse memorandum van die HIV/Vigs en TB Direktoraat van die Departement van Gesondheid:
“Altesame 47 603 nuwe TB gevalle is verlede jaar in die provinsie geregistreer wat 900 per 100 000 mense verteenwoordig. Die totale getal nuut- geregistreerde gevalle het elke jaar gestyg.”
Sy is egter positief, want die TB-behandelingsprogram in plek behaal ’n 70% genesingskoers van alle nuwe TB-positiewe smere in die provinsie, in vergelyking met 67,7% in 1997.
Uitslae is die beste van die nege provinsies landwyd. Hierbenewens het die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement ’n TB- Responsplan geloods in lyn met die Nasionale TB-krisisplan.
Hiervolgens is meer personeel en ander hulpbronne ontplooi in die gebiede met die hoogste TB-gevalle in Khayelitsha, Klipfontein, Oos-Drakenstein en Breedevallei.
Ook is ’n taakspan in September in die lewe geroep om die hele TB-program te hersien. Hulle moet ook ’n verslag saamstel oor die omvang van XDR-TB, die huidige TB-Beheerprogram in die Wes-Kaap én die kapasiteit van TB-hospitale verbeter.
* Simptome van TB sluit in aanhoudende gehoes vir meer as drie weke, swakheid, eetlus- en gewigsverlies, nagsweet, borspyn, koors en die hoes van bloed.
Mense wat veral ’n risiko loop om TB op te doen, is diegene wat in oorbevolkte omstandighede woon wat gedurige asemhalingsruimte deel, ondervoed of ondergewig is, HIV-infeksie opgedoen het of in ’n algemene swak gesondheidstoestand verkeer.
More
News
|