Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Laaste eer vir plaaswerkers

Laaste eer vir plaaswerkers
 
2006-11-23


DIE vyf grafte van plaaswerkers van Klapmuts wat verlede week saam met 14 medewerkers in ’n treinongeluk gesterf het, wag gereed ín 'n begraafplaas op die dorp.

’n Massaroudiens vir die plaaswerkers is verlede Woensdag onder rou snikke in Klapmuts gehou.

Daarna is ’n troosdiens Sondag op die Faure wynplaas gehou vir naasbestaandes van die slagoffers. Die ongeluk was enkele meters van dié plaas waarheen hulle op pad was toe die trein hul lewens kortgeknip het.

Die gedenkdiens vir die vragmotorbestuurder, Gert Zeelie van die Paarl, is Vrydag in die NG Kerk Paarlvallei gehou.

Hy is deur vriende en familielede as ’n veilige bestuurder beskryf, wat so opgewonde was oor die nuwe werk, ’n werk wat hy as jarelange vragmotorbestuurder, goed geken het.

Zeelie is veras op die dag dat hy van sy vervreemde vrou sou skei. Hy het die afgelope tyd by sy suster, verpleegsuster Liefie Bergh van Medi-Clinic, in Noorder-Paarl gewoon.

Jan Carolus se verassingsdiens is Saterdag uit die Nuwe Apostoliese kerk in Klapmuts gehou.

“Ek is baie hartseer, want ons was onafskeidbaar, maar ons het soos altyd daardie dag mooi van mekaar afskeid geneem,” het sy vrou, wat hy Kriekie genoem het, by die diens gesê.

Die egpaar het nie kinders gehad nie.

Die gesamentlike diens vir die slagoffers uit die Klapmuts gemeenskap word Saterdag om 10:00 in die saal van Klapmuts Primêr deur eerw Allan Boesak gelei.

Die gestorwenes uit Klapmuts is Lorraine van Staden, Suzan Steneveldt, Monica Lumco, Mikhaela Fortuin, Bettie Wonderlik, Francina Arendse en George Davids.

Intussen sorg familielede vir kinders van susters, broers en niggies.
Skokherinneringe soos die man wat sy vrou se hand gegryp het om haar saam met hom te laat afsping, en die trein wat tussen hulle deurgebars het, bly die gemeenskap by.

Die vrou is van hom weggeruk. Haar liggaam is saam met dié van haar werkvriende, vermink langs die spoor opgetel.

Die oorlewendes sterk aan in hospitale.

Morné Kershoff, seun van die vragmotoreienaar, was in die
passasiersitplek en halflyf uit die kajuit toe die trein getref het.

Hy is vir ernstige been-, bors- en armbeserings in die Vergelegen Medi-Clinic behandel.

Aubrey George sterk aan met ’n ernstige voetbesering. Jonathan de Wee se arm is gebreek. Hy kon betyds afspring, maar sy ma, Lea,
het dit nie gemaak nie.

Pierre-Jean Gerber, ANC-parlementslid van Wellington, het die afgelope jare in briewe aan Transnet, die Wes-Kaapse distrikspadingenieur in die Paarl en die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke versoek dat die kruising beveilig moes word.

Sy versoeke is geïgnoreer.

Twee jaar gelede is ’n kruisie vir Neacail Volminck (2) van Faure opgerig toe sy en Scott Hendricks (13) in haar pa se voertuig by dieselfde oorgang in ’n treinongeluk gesterf het.

Inwoners het onmiddellik daarna ’n petisie vir ’n valhek opgetrek en aan Metrorail oorhandig. Ook daarvan het niks gekom nie.

Gisteraand het gemeenskapsleiers en inwoners vergoeding met die landboukontrakteur, Martin Kershoff, bespreek.

Die Provinsie het intussen te kenne gegee dat ’n arbitrator aangestel sal word om skenkings aan die Agri Wes-Kaap

Plaaswerkersrampfonds te behartig. Die fonds staan tans op R23 000.

* A mass funeral for people who died in the train crash at Faure last week, will be held in Klapmuts on Saturday.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za