Colin Rall sit agter tralies
2006-11-23
VERLEDE week nog het Colin Rall van Wellington saam met sy vrou hul sakebedrywighede as wettig voorgehou. Vandag deel hy ’n sel met meer as 40 verhoorafwagtendes by Allandale gevangenis.
Sy vrou, Merinda, is op borgtog van R3000 vrygelaat en gewaarsku om op 6 Desember weer in die Wellingtonse landdroshof te verskyn.
Rall self het nie vir borgtog aansoek gedoen nie, terwyl die ondersoekbeampte, speurinspekteur David Manthey, sy vorige veroordelings nagaan en die staat se saak teen die beweerde bedrieërs voorberei.
Hy sal weer op 7 Desember in die hof verskyn, voorlopig aangekla van bedrog van omstreeks R200 000 nadat 'n tweelng van Riviersonderend geld in ProRugby, ’n sogenaamde sakeonderneming van die Ralls, belê het.
Die staat sou in ieder geval borg teengestaan het omdat Rall voorverlede week die land uit is en op Heathrow lughawe by Londen ’n draai gemaak het. Hy is egter nie in dié land toegelaat nie.
Voormalige werknemers het die afgelope weke oor wanbetaling by die polisie, prokureurs en Departement Arbeid (die CCMA) aanklagtes teen die Ralls gemaak.
Daar is toe vasgestel dat Rall vorige veroordelings van bedrog en diefstal het. Individue, sakemanne en skole wat glo ook ingeloop is, het by die dosyne begin navraag doen oor die wettigheid van ProRugby en ’n sporttydskrif waarvoor hy advertensies gewerf het.
In die meeste van die gevalle moes die polisie die klaers na die siviele hof verwys.
Enkele sake word egter as kriminele bedrog of diefstal ondersoek. Dit sluit in 'n vals bewys vir R12 600 wat aangebied is ná beweerde elektroniese betaling vir die huur van 'n voertuig
Die Ralls het drie weke gelede haastig uit Wellington vertrek, waar hulle vier jaar gewoon het. Die ondersoek na onwettige bedrywighede strek van Wellington tot sover as Gauteng, Riviersonderend, Mosselbaai, Strand, Brackenfell, Goodwood en Kaapstad.
In ’n skrywe aan die Paarl Post hierdie week, sê Arthur Briggs van Kaapstad dat hy ’n maand gelede deur Rall genader is om SA School Sports Magazine te begin.
“Hy het ’n weergawe van ’n vorige tydskrif by hom gehad, en het gesê dit was nog nie gepub-liseer nie, omdat hy nie tevrede was met die kwaliteit van die werk nie.
“Die boek is volgens die indeks deur Amanda en Gideon Kreitzer saamgestel, wie, glo ek, ook nie vergoeding sal ontvang vir hul werk nie.
“Ongelukkig is ek ook ingetrek om ’n tydskrif te ontwerp wat nooit ’n drukker sal sien nie.
Ná paniekbevange oproepe van adverteerders wat reeds vir Colin betaal het en nie weer met hom kon kontak maak nie, het ek besef daar is groot fout.
“Ek kon hom ook nie bereik nie, nie op twee selfone, ’n landlyn of per epos nie. Hy het ook nie vir afsprake opgedaag nie.
“Hy is boonop vort met my duur digitale kamera (om glo foto’s te neem van ’n adverteerder se winkel).
“Ek glo sy vrou en een van sy broers (in Engeland) werk almal saam om mense uit hul geld te bedrieg.
“Colin is reeds ’n vyfjaar vonnis opgelê vir bedrog (hy is na enkele maande op parool vrygelaat) en hy kan nie ’n bankrekening open nie.
So is Merinda - en ander mense se rekeninge ook - gebruik vir geld van slagoffers.
“Ek hoop dat almal wat geld deur die Ralls verloor het, die polisie of ’n prokureur sal kontak. Hoe meer sake teen hom, hoe groter is die kans dat hy sy skuld aan die gemeenskap sal betaal en lank agter tralies sal bly.”
* A Wellington man is behind bars after being arrested for fraud.
More
News
|