Bekendes bring hulde
2006-11-30
DIE bekende Paarlse musikant, Bram Potgieter, is een van ’n rits bekendes wat Sondag om 18:00 hulde bring aan die immergroen Nico Carstens op sy 80ste verjaardag.
Al die kunstenaars tree gratis op in die konsert wat in die Oude Libertas-amfiteater op Stellenbosch gehou word.
Bekende akkordeonspelers Ollie Viljoen, Paul Ferns, Flippie van Vuuren en Enrico Kolewsky sal kleur aan die aand verleen.
Ander kunstenaars is oud-Paarliet Charlene Truter, Valiant Swart, Sandra Prinsloo, Anton Goosen, Pieter van der Westhuizen, Denver Furnes, Schalk Joubert en Camilo Lombard.
Nico Carstens sal moontlik self ook n item lewer.
’n Spogdinee word agterna gehou. Kaartjies vir die konsert én dinee is by Computicket beskikbaar.
Nico Carstens is op 10 Februaríe 1926 in Bellville-Suid gebore. Op 13 het hy ’n 48 bas trekklavier by sy pa as geskenk gekry. Hy het sonder enige opleiding begin musiek maak.
Nico het ook in verskeie films gespeel: Kom Saam Vanaand (1948) met Hendrik Susan, Al Debbo, Frederik Burgers en Jan Cronjé was die eerste, gevolg deur Hier’s ons weer (1950). Die laaste van sy elf films was Olie Kolonie (1975).
In 1951 stig Nico sy eie orkes, ‘Nico Carstens’ en toer die land en Namibië.
Hy het binne vier jaar, tussen 1953- en 1957, sy eerste miljoen plate in Suid-Afrika verkoop. Sy liedjie ‘Zambezië is 17 agtereenvolgende weke die nommer 2 op die Britse treffersparade en ook vir ses weke op die Europese vasteland in dieselfde posisie.
Nico Carstens het die afgélope 40 jaar n reuse bydrae tot ligte Afrikaanse musiek gemaak as trekklavierspeler en ook as komponis van bykans 1000 gepubliseerde liedjies.
More
News
|