'n Vol program vir die amfiteater in Desember
2006-11-30
DRIE groot vertonings word by die Taalmonument Amfiteater beplan gedurende Desember.
Die eerste, op Saterdag 2 Desember, is ’n opelug Country-vertoning met Lance James, Tommy Dell, Barbra Ray, Jody Wayne en Bobby Angel.
Kaartjies teen R100 elk is beskikbaar by Minolta (langs McDonalds) in die Paarl.
Die kos- en wynstalletjies sal van 16:00 af oop wees en die program begin om 19:30.
Navrae by die organiseerders, Lynette Nortjé (084-447-1604 of k/u 874-1021) en Yolandi Swart (084-608-7724 of k/u 871-1510).
* Op Saterdag 9 Desember om 20:00 bied die ATKV se Kaapse Streekkantoor die eerste rieldanskompetisie (of /khapara soos dit oorspronklik in Nama bekend staan), in Suid-Afrika aan.
In Afrikaans het dit as die rieldans bekend geword as gevolg van die ooreenkomste wat die dans met die Skotse ‘reel’ het.
Die danssoort kan met reg die oudste in Afrika genoem word omdat die hedendaagse dansvorm direk na die eerste inwoners naamlik die Khoi-San herlei kan word.
Die /khapara word veral deur die energieke voetwerk en pas waarmee dit gedans word gekenmerk, maar dit kan ook soms ’n beskrywende aard van die diereryk hê, byvoorbeeld die bobbejaandans, skoenlapper en sekretarisvoël, of die werksituasie soos bulslaan, bokwagter en askoekslaan.
Groepe vanuit Namakwaland, te wete Leliefontein en Bitterfontein, die Boesmanland (Verneukpan, Brandvlei en Middelpos), asook Vredendal en Wupperthal gaan aan hierdie kompetisie deelneem.
Kaartjies is R40 (kinders R25). Besprekings en navrae by 988- 7876.
* Die laaste geleentheid is ’n Kerssangaand op Saterdag 16 Desember. Kom geniet ’n aand van ongelooflike sang en musiek en raak so bewus van die wonders van Kersfees.
Die hekke open om 17:00 en van 18:30 af kan marimbamusiek van Frank Pietersen se groep geniet word.
Ook op die program is luisterliedjies uit die hart (klavier, viool, tjello, klarinet om 19:30), ’n koperblaas-kwintet (20:15) en sanger Fanie de Jager (21:00).
Om 22:30 word daar kerse aangesteek en daar is samesang van Kersliedere.
Kaartjies is R70 (kinders R30) by die hekke of WilleMan Motors, Versterstraat, Paarl (872-1088). ’n Gedeelte van die opbrengs gaan aan die Paarl Post Opelugfonds.
Navrae by 082-791-4249 of 975-7541. Onthou ’n kussing om op te sit en ’n kers in ’n plastiekbottel.
More
News
|