Klapmuts in rou
2006-11-30
Lise Beyers
DIE gemeente van Klapmuts is Saterdag opnuuts in rou gedompel, toe die massabegrafnis van ses van hul boorlinge wat in die Faure-treinramp gesterf het, plaasgevind het.
Twintig mense is dood en ses ernstig beseer toe ’n vragmotor wat plaaswerkers vervoer het voor ’n aankomende trein by ’n kruising naby Faure beland het. Dertien van die oorledenes was van Klapmuts afkomstig.
Saterdag is Francina Arendse, Lorraine van Staden, Elizabeth Steneveld, Monica Limko, George Davids en die 16-jarige Michaylah Fortuin vanuit die skoolsaal van Klapmuts Primêr begrawe.
Honderde familielede en vriende het op die perseel toegesak vir hul laaste eerbetoon aan die slagoffers.
Dr Alan Boesak het die diens gelei onder die waaksame oog van verskeie politici wat teenwoordig was.
Die geweeklaag van die treurendes kon tot buite die hekke van die skool gehoor word.
Ná die diens van meer as twee uur, is die stoet na die Klapmuts begraafplaas waar vyf van die oorledenes begrawe is.
Francina Arendse is by die Parys-begraafplaas in die Paarl begrawe. Bettie Wonderlik is Saterdag in Oudtshoorn begrawe en Wilfred Booi en sy ma, Patricia Mbyana, in die Oos-Kaap.
George Booysen sal in Colesberg ter ruste gelê word en Abraham Malan en Patricia de Wee in Fraserburg.
Die huidige balans van die Agri Wes-Kaap Plaaswerker Rampfonds staan op byna R300 000. Bydraes kan gemaak word by Absa Paarl Absa, rekeningnommer 917 397 8050, takkode 632005.
* A mass funeral for five Klapmuts residents, victims of the recent train crash at Faure, was held on Saturday. The other deceased will be buried elsewhere.
More
News
|