Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lewenslank vir Lisbé se moordenaar

Lewenslank vir Lisbé se moordenaar
 
2006-11-30


DIE persfoto van ’n verdagte, geklee in die slaapbroek van ’n vermoorde se seun, was deurslaggewend in die skuldigbevinding van gewoontemisdadiger Elton John Lourens van Wellington.

Lisbé Smuts-Smith se huishulp, Johanna Buys, het Timotius Smuts se slaapbroek herken op ’n foto waar die verdagte ná sy arrestasies in Februarie verlede jaar deur polisiemanne weggelei word. Die foto is deur Paarl Post se fotograaf, Malané Bosman, geneem.

Hierdie week is Lourens (29) skuldig bevind aan die moord op Lisbé, Universiteit Kaapstad lektrise (toe 47), en poging tot moord op Alexa Kirsten (54) in die Smith woning in Burgstraat.

Lourens sal minstens 25 jaar lank agter tralies wees.

“Die regstelsel het gefaal,” het regter Dennis Davis tydens vonnisoplegging in die Kaapstadse Hooggeregshof gesê.

“Dit het gefaal ten opsigte van die beskuldigde wat sedert sy tiende jaar tronkstraf opgelê is, die oorledene en die beseerde.”

Alexa, ’n kunstenaar, is 17 keer met ’n skroewedraaier gesteek toe sy haar buurvrou se noodkrete gehoor en haar te hulp gesnel het.

Lourens het met Lisbé tot in die swembad gestoei, waar sy in die water aan meer as 20 steekwonde gesterf het.

Alexa het ’n stel nat voetspore van die swembad na die huis sien lei. In die huis het sy ’n man sien staan.

Sy het hom gegroet, maar dadelik besef sy is “op die verkeerde tyd en plek” toe sy aangeval word. Sy is herhaaldelik in die nek gesteek met ’n skroewedraaier en het rugmurgbeserings opgedoen.

Alexa moes ná weke in die hospitaal weer leer kruip en loop. Sy kom steeds moeilik oor die weg en kry ook steeds sielkundige hulp.

Alexa, sowel as Lisbé se dogter Saskia (13), het sedert die moord ’n nou band en het saam ’n mosaïekkunswerk ter ere van haar ma gemaak. Saskia toer nou saam met haar aanneemouers in Indië.

Lisbé se seun, Timothius (18), was in matriek ten tyde van die voorval. Hy het die res van die jaar by pleegouers in die Paarl gebly, en studeer nou animasie in Japan.

Hul pa, Timo Smuts, is in 1999 tuis aan ’n hartaanval oorlede. Hul woning, die historiese Twistniet in Burgstraat, is onlangs verkoop.

Lisbé se kinders sal nooit weer na hul grootwordhuis kan terugkeer nie.

Terwyl Alexa strafverswarend getuig het, is sy uitgevra oor wat sy dink die regte straf vir Lourens sou wees.

“’n Oog vir ’n oog, ná die vermorsing van Lisbé se lewe,” het sy gesê.

Regter Davis het ter opsomming gesê dat die getuies Lourens nie kon identifiseer as die moordenaar nie.

Die Smiths se huishulp het egter die slaapbroek aan Lourens se lyf, op die foto in die Paarl Post, herken as dié van die vermoorde se seun.

Daar was ook ’n bloedvlek aan Lourens se T-hemp, wat in DNS ooreengestem het met Kirsten se bloed.

Hy moes dus in die woning gewees het, en daar moes dus kontak gewees het tussen Lourens en Kirsten, het Davis opgesom.

Ten spyte van sy geskiedenis van 34 skuldigbevindinge en dat hy op parool was, is Lourens kort voor die moord in die Wellingtonse landdroshof op borgtog vrygelaat nadat hy op ’n huisbraakklag voor die hof gebring is.

Regter Davis het Lourens nou ook skuldig bevind aan dié huisbraaksaak, asook roof met verswarende omstandighede in Lisbé se huis.

Hy is gevonnis tot vyf jaar vir huisbraak, 15 vir roof, 15 vir poging tot moord en lewenslank vir moord.

“Die beskuldigde moes lankal uit die gemeenskap verwyder gewees het,” het Davis gesê.

“Hy sal effektief 25 jaar moet uitsit voordat hy vir parool in aanmerking mag kom.”

Lourens sal nie weer sy opslaanhut tussen Wellington en Mbekweni sien nie.

Hy het die vonnis emosieloos aangehoor, en is sonder enige uitdrukking op sy gesig die trappe na die selle afgelei.

* The man who murdered Lisbé Smuts-Smith in Wellington has been sentenced to 25 years behind bars.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za