Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jong Kirsten speel wêreld aan die brand

Jong Kirsten speel wêreld aan die brand
 
2006-11-30


AS daar nou een speler is wat geen genade vir ’n bouler of ’n krieketbal het, dan is dit Freddie Kirsten.

Dié o.13A-speler het onlangs die wenkbroue behoorlik laat lig toe hy ’n onoorwonne 198 lopies in Hugo Rust se 30-beurt wedstryd teen Wellington Primêr aangeteken het.

Kirsten (geen familie van die ewe behendige kolwers, Peter en Gary Kirsten nie) het slegs een vangkans aan die veldwerkers van Wellington Primêr gebied én dit nadat hy reeds 150 lopies agter sy naam gehad het.

Wat Freddie se kolfwerk, as nommer drie-kolwer, nog meer van ’n plesier gemaak het om te aanskou, is die feit dat hy deurgaans kwaliteit teksboek-houe gespeel het.

Hy is goed bygestaan deur spanmaats, Dayan van der Westhuizen (28) en Tiaan Smuts (26).

Hugo Rust se totaal het uiteindelik op ’n reusagtige 294 te staan gekom, wat hul teenstanders die taak gestel het om teen ’n gemiddeld van meer as 9,4 lopies per boulbeurt lopies aan te teken.
Freddie het ook uitgeblink met die bal en boulsyfers van 6/6 behaal, op sigself ’n uitstekende prestasie.

Dit het daartoe bygedra dat die kolwers van Wellington Primêr vir slegs 26 lopies uitgeboul is.

Hugo Rust wen dus die wedstryd met 268 lopies.

In sy vorige twee wedstryde het Freddie met onoorwonne tellings van 81 en 96 gespog. Dit beteken dat sy totale aantal lopies op dié stadium op ’n onoorwonne 375 staan.

Freddie is nie alleen die kaptein van Hugo Rust se o.13A-krieketspan nie, maar voer vanjaar ook die Boland o.13B-span aan wat volgende week op Worcester aan die interprovinsiale toernooi deelneem.

Maar hoe voel dit om soveel lopies te moker?

“Dit voel goed, dit vang jou eers later, dan sink dit regtig in,” vertel Freddie.

En was hy teleurgesteld om nie daardie laaste twee lopies te kon kry vir sy tweehonderdtal nie?

“Nee Oom, ek het gelag. Ek moes 12 lopies van die laaste drie balle aanteken.

“Met die eerste twee balle het ek elkeen ’n vier geslaan, maar met die laaste bal het die bal ’n meter voor die grenstou gestop,” vertel hy nederig.

Freddie skoei sy perfekte houe en vorm op die voorbeeld van die Protea-speler, Jacques Kallis.

“Ek wil graag my tegniek soos syne kry.”

Dit is egter nie alleen op die krieketveld waar dié jong speler uitblink nie.

Hy het vanjaar die Boland o.13 Cravenweek-span as kaptein gelei, terwyl hy vir hokkie, swem en atletiek (in gewigstoot) in die Boland-Sentraal-span opgeneem is.

Dié hoofseun van Hugo Rust se A-gemiddelde akademiese punt, het dan ook beteken dat hy vanjaar met die skool se trofee vir die beste vertoning op sowel die sportveld en akademie, weggestap het.

Hy is ook tydens die Boland Skolesportbanket vereer as die beste laerskoolrugbyspeler.

Freddie is volgende jaar ’n leerder by Hoër Jongenskool Paarl en met 'n talent soos syne is dit is 'n sekere feit dat daar nog baie van hom gehoor gaan word.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za