Boland fietsry
2006-11-30
DIE derde been van die Boland Omnium Baanfietsry-reeks het Saterdag op Faure Stadion plaasgevind.
Die laaste been van die kompetisie word op 9 Desember gehou, aangesien die stadion dié naweek bespreek is vir rofstoei.
Tydens die laaste byeenkoms sal daar ook ’n interklub-kompetisie gehou word.
Goeie fietsry was Saterdag weer eens aan die toeskouers opgedis.
Hoewel die Rhadpsport-jaer, Reginald Benjamin, nie aan Saterdag se byeenkoms deelgeneem het nie, is hy steeds die voorloper in die ope-afdeling.
Grant Stuurman, ook van Rhadsport, het intussen na die tweede posisie opgeskuif ná goeie vertonings in die punte-wedren (eerste) 10 ronde-wedren (eerste), uitvalwedren (tweede) en die 1500m (tweede). Lesley Snyders beklee tans die derde plek.
In die veterane-afdeling is Morné van Greenen (Outriders) steeds die voorloper.
In die o.16 afdeling jaag Clint Hendricks (Rhadsport) nog voor met 20 punte. Avery Aredse (Yorkshire) en Chad Hendricks (Bellville) deel tans die tweede plek met 12 punte elk, terwyl Brandon Christiaans (Rhadsport) op agt punte hard in hul nekke blaas.
In die o.14-afdeling is Wayne Botha (Tygerberg Fietsryklub) gemaklik voor met 24 punte nadat hy Saterdag alvier sy wedrenne gewen het.
Emile Jacobs (Millennium) beklee tans die tweede plek met 14 punte gevolg deur Marc Bradshaw (Bellville) en Dillon Overmeyer (Bellville) gesamentlik in die derde plek met 10 punte.
In die o.12 afdeling het Bradwin Daniels (Yorkshire) tot dusver al sy wedrenne vir die seisoen gewen. Hy is tans los voor met 36 punte gevolg deur Joshwin de Wee (Rhadsport) en Neil Adriaanse (Rhadsport) albei met 14 punte en Eon Benjamin (Yorkshire) op agt punte.
Daniels het ook teen die o.14 ryers gewys dat hy nog ’n goeie ryer gaan word.
In die vroue-afdeling kraai Natasha Marang (Yorkshire) tans koning, terwyl Tracy van Niekerk in die tweede posisie is.
More
News
|