Paarl-Oos glip 'n sege deur
2006-11-30
DIE onvoorspelbaarheid van ’n nuwe blad was Saterdag die groot gelykmaker in die wedstryd tussen die eerste krieketspanne van Paarl-Oos en Malmesbury.
Op Malmesbury is die tuisspan uitgeboul vir 132 lopies. Ian Gray (34 4x6) en Lloyd Gray (41nun 4x3) was die voorste lopiemakers.
Paarl-Oos se Elroy Abrahams het die wispelturigheid van die blad behoorlik uitgebuit en met syfers van 5/8 in agt beurte die kolforde vernietig.
Hy is goed bygestaan deur Zynodien Fredericks (3/21 na 8bb).
Paarl-Oos was goed op dreef met 30/0. Die kolfblad het egter kort hierna met sy truuks begin en die besoekers kort voor lank op 63/7 in die moeilikheid gehad.
Abrahams (44 4x4) en Fredericks (2) het beide soos nete aan hul paaltjies geklou om hul span van ’n een paaltjie sege te verseker.
Die Paarliete het omtrent ’n sug van verligting geslaak, veral aangesien Fredericks twee keer misgevang is.
Waylain September (23 4x3) het ook ’n handige beurt ingepas. C Meyer (4/31 na 12bb) en J Cicero (2/12 na 6bb) was Malmesbury se beste boulers.
In die Paarl het Paarl-Oos II (183/5) ’n meer oortuigende sege behaal toe hy sy eweknie van Malmesbury (181) met vyf paaltjies geklop het.
A Bruintjies (28 4x5), A Solomons (33 4x3, 6x1), A Muley (34 4x6, 6x1), D Robertson (39 4x3) en A Geldenhuys (2/36) het vir die besoekers uitgeblink.
Vir die tuisspan het Dale Uys (3/22 na 12bb), Kurt Julies (2/48 na 15bb en 39 4x5), Jackie Daniels (2/39 na 11bb en 56nun 4x4), Wayne Minnies (2/15 na 10bb) en Lee-Roy Goliath (38 4x5) goed vertoon.
Saterdag speel Paarl-Oos I (weg) en II (tuis) teen Hermanus. Die derde span speel tuis teen Atlantis.
More
News
|