Ma's is spesiaal
2005-05-05
David Joshua
MOEKSIE, mamma, mammie, moeder, ma - al hierdie woorde wek by almal, of dan meeste van ons, beelde van liefde en deernis op.
Dit is immers hierdie persoon wat lewe skenk, altyd opoffer, altyd maar regstaan met raad en daad en wie weet wat nog alles.
Dis geen wonder nie dat kinders spontaan reageer wanneer oor hul ma gepraat word. Sommige borrel opgewonde oor en kan nie uitgepraat raak oor wat hulle beplan om vir hul ma te doen op Moedersdag nie.
Of die hele affêre met die ma-bederf gaan werk, is hulle nie so seker van nie, maar Pa is mos ook byderhand om te help.
Dis alles van ontbyt in die bed bedien tot sjokolade koop en blomme gee.
Kate Wright (6) van La Rochelle preprimêr sê, “Ek is lief vir mamma, want sy is mooi. Sy koop vir my presente”.
Marion Muller (5) sê dat haar mamma vir haar kosmaak en koekies gee.
“Ek leer ook om koekies te bak sodat ek vir mamma Elna daarvan kan gee.”
Joshwill Davids (13) van Daljosafat Primêr sê sy ma raas met hom as hy verkeerd doen, maar hy besef dis nodig “want sy help my reg”. Sy sê nie aldag dat sy vir hom omgee nie, maar hy sien dit in haar dade, want sy help hom met alles, tot met sy huiswerk. Hy gaan haar ‘n doos sjokolade koop as ‘n geskenk om dankie te sê.
Raydene Miggels, ook in graad sewe, bly by haar grootmaak-tante wat maar ‘n stil mens is. Tannie-ma sê dat Raydene haar voorbeeld moet navolg.
Raydene sê dat jy elke dag moet wys dat jy lief is vir jou ma, en dat daar wel ‘n dag soos Moedersdag moet wees.
Rian Blignaut (12) van Drakenstein Laerskool voel die ideale ma moet baie omgee vir mense.
Sy ma aanvaar hoe hy homself uitdruk soos die mens wat hy is, en leer hom definitief wat reg en verkeerd is. Sy doen baie vir hom, daarom is Moedersdag ‘n ideale geleentheid om haar te bedank. René Adams, ook van Drakenstein Laerskool sê haar ma is wêreldwys en leer haar van die wêreld daar buite. Maak sy egter ‘n fout is haar ma streng genoeg en tug haar.
“Ek dink nie sy verwag eintlik ‘n geskenk vir Moedersdag nie, maar sy verwag baie liefde van haar kinders. Maar ek het ‘n verrassing vir my ma.”
Angeline Pekeur (14) van Charleston Hill Primêr bly ook by haar mamma-tante wat volgens haar liefdevol is en oop is om na haar probleme te luister.
“Ek gaan haar spesiaal laat voel met ontbyt in die bed, al is ek nie self ‘n goeie kok nie.”
Rezaan Basson (14) by dieselfde skool voel sy ma is baie spesiaal, gee baie liefde en doen enigiets in haar vermoë om hom gelukkig te maak.
“Ek gaan haar verras met ‘n bos blomme en ‘n geskenkie wat my geheim is. My pa moet maar help om die geskenk uit te soek en ook help regstaan in die kombuis.”
Afton Morris (12) van Mary Help of Christians Primêr meen elke dag moet eintlik Moedersdag wees.
“My ma raas met my as ek so ‘n bietjie mors in my kamer, maar op ‘n liefdevolle manier. Op Moedersdag gaan ek vir haar beslis blomme gee.”
Siyabonga Matai, ook van Mary Help, sê sy ma is ‘n omgee-mens. Sy pa is reeds oorlede en daarom moet ma die rolle van albei ouers vervul.
“Ek respekteer my ma vir die goedhartige en vrygewige mens wie sy is. Ek gaan vir haar ‘n klein geskenkie koop van my sakgeld.”
More
News
|