Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Klappers jaag Kyla na haar dood

Klappers jaag Kyla na haar dood
 
2006-12-07


DIE dood van ’n troetelhondjie - wat Saterdagaand deur ’n motor platgetrap is terwyl sy voor die gedonder van vuurwerke gevlug het - het Paarliete warm onder die kraag.

Kyla, sewejarige Jack Russell-tefie van die Millergesin van Enslinstraat, het oor ’n tuinmuur gespring en vervaard met Hoofstraat weggehardloop om van die vuurwerkvertoning om 20:00 by die Grande Roche Hotel te ontsnap.

’n Vriend van die Mullers het nie eens besef dis klein Kyla wat hulle voor die wiele van ’n motor sien rol het by die ingang na Roodeberg Village nie.

Die motor het verder gery, en die hondjie het stil op die teer bly lê.
Johan en Maryna Miller het die tyding op die lughawe gekry, toe hulle van Johannesburg teruggekeer het. Die huisoppassers kon nie keer dat Kyla weghardloop nie.

“Ons huis is in rou,” vertel ’n hartseer Miller.

“Kyla was nie net ’n hond nie, sy was deel van die huishouding. Sy was ook die ore vir ons ander hond, Shakira, wat sedert geboorte doof is. As sy nie doof was nie, was sy dalk ook dood.”

Miller is bitter: “Nou het Grande Roche ’n koue houding oor die skade en trauma wat hulle veroorsaak het. Hulle skuld die gemeenskap ten minste ’n verskoning.

“As hulle onderneem om nie weer so iets aan te bied nie, sal ons hondjie se dood darem iets beteken het. Maar hulle reaksie tot dusver was net dat hulle reeds verlof het vir ’n vuurwerkvertoning Oujaarsaand.”

Miller het ’n afspraak by die Munisipaliteit gemaak om die aangeleentheid te bespreek.

“Die hotel het toestemming gehad vir die vuurwerke, maar hoe kan een mens toestemming verleen vir ’n vertoning in ’n woongebied sonder dat inwoners geken word in die saak?

“Het enigiemand die desibel-lesing geneem?

“Ons moet sorg dat daar nie weer klappers in die dorp geskiet word nie.”

In Bergstraat het mense wat uit hul huise gebars het om die oorsaak van die skote te soek, probeer om ’n paniekbevange Sint Bernard-hond voor te keer. Die verskrikte hond het groot mans eenvoudig platgehardloop.

Daar was honde wat uit hul leibande losgeruk het, en wie se eienaars hulle met groot gesukkel in die strate moes gaan vang.

’n Magdom dorpenaars het die aand voor die ingang van Grande Roche saamgedrom.

Daar was mans met kort broeke en vroue met kaal voete. ’n Groot man was ontsteld oor sy piepklein Yorkshire Terriër wat weggehardloop het. ’n Ander man het sy twee katte gesoek het.

“Vir ’n oomblik het ek gedink ek is terug in die bos in Angola,” het ’n man gesê. “Soos Sarajevo,” het ’n jonger man beaam.

Daar was vroue wat dadelik begin het met die opstel van ’n petisie wat Paarliete van noord tot suid sou verenig teen toekomstige vuurwerkvertonings by die hotel.

“Uiteindelik het ’n senior personeellid van die hotel ons te woord gestaan,” het Johan Bakkes gesê.

“Die volk was lanklaas so opgewonde oor ’n saak hier in die Paarl.”

Die polisie het daar opgedaag nadat 'n lid van die publiek gekla het oor die rusverstoring. Hulle het gesorg dat die twee voertuie wat die ingang geblokkeer het, verwyder word.

Volgens 'n woordvoerder van die hotel sal daar met die klaers onderhandel word (sien ook brieweblad).

* Paarlites are up in arms after a fireworks display at the Grande Roche Hotel that caused the death of a pet Jack Russell dog and traumatised animals and their owners on Saturday night.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za