Treindrywer vrygespreek
2006-12-07
DIE treindrywer wat aangekla is van 10 klagtes van manslag in die Muldersvlei-treinramp is eergister vrygespreek van alle klagtes teen hom.
Vertoë is Dinsdag deur adv John van den Berg in die Paarl Streekshof gerig vir ontslag in die saak teen treindrywer, Mervyne Matthee (59), weens die feit dat nalatigheid nie teen hom bewys kan word nie.
Matthee is aangekla na ’n trein-ongeluk drie jaar gelede, toe die passasierstrein wat hy bestuur het agter in ’n stilstaande goederetrein vasgery het by Muldersvlei. Tien mense het in die ongeluk gesterf.
Daar is aangevoer tydens vandeesweek se hofverrigtinge dat Matthee ten tyde van die voorval steeds onder sielkundige behandeling was en ook medikasie ontvang het vir mediese komplikasies wat ontstaan het na die afsterwe van sy eggenote.
Van den Berg het ook aangevoer dat Metrorail se instandhouding van die trein, wat reeds in 1962 gebou is, nie voldoende was nie en dat dit bygedra het tot die sterfgevalle.
Hy het gesê dat wil voorkom asof die vloer van die trein mettertyd verswak het en tydens die botsing het dit uitgeval.
As dit nie hiervoor was nie sou daar volgens hom ’n goeie kans gewees het dat minder mense sou gesterf het.
’n Oorstelpte Matthee het ná die saak gesê dat hy oorweldig is deur die uitspraak.
“Na drie jaar en 11 maande van ’n swaard wat oor my kop gehang het, kan ek uiteindelik ontspan.
“Die eerste ding wat ek nou wil doen, is ’n vakansie by die see hê wat hopelik vir my verder sal laat kan ontspan na my beproewing.
“Ek wil ook die talle mense van die Paarl en Wellington bedank vir hul geweldige ondersteuning wat vir my deur die hofsaak gedra het.”
* The train driver accused of manslaughter following the Muldersvlei train crash three years ago, has been acquitted. - Lise Beyers
More
News
|