Kersgeld geroof
2006-12-07
DIE Kers-bonus van verskeie leerkragte van Dalweide Primêr is daarmee heen, nadat een van hul onderwysers Dinsdag met die geld ontvoer is.
Ainsley Jacobs het Dinsdagoggend om 10:00 R26 000 by FNB in Lady Greystraat, Paarl, gaan trek. Die geld word deur die onderwysers deur die jaar gespaar om vir hulle elkeen ’n ekstra bonus oor die feestyd te gee.
Toe Jacobs na sy voertuig terugkeer en oopsluit, het ’n man skielik agter hom ingeklim, iets teen sy rug gedruk en vir hom beveel om ry.
“Op die hoek van Nantes- en Hoofstraat het nog ’n man voor ingeklim en ek was vreesbevange.
“Hierna moes ek na die N1 ry en net nadat ek op die snelweg was, het hulle vir my gesê om langs die pad af te trek.
“’n BMW het agter ons stilgehou en die rowers het my motorsleutels gegryp, hul buit gevat en in die BMW gevlug in die rigting van Kaapstad.
Jacobs moes hierna in ’n geskokte toestand na ’n motorhawe in Suider-Paarl stap om die polisie te verwittig.
"Ëk het toevallig 'n tydjie terug 'n artikel gelees wat wenke bied oor wat om te doen indien jy gekaap word.
"Ek het vir my lewe gevrees en kan net onthou dat hulle gesê het dat jy moet kalm bly en nie die kapers in die oog moet kyk nie."
Die polisie, asook lede van die honde-eenheid, het op die toneel toegesak op soek na leidrade, maar niemand is tot dusver aangekeer nie.
* A Paarl teacher was robbed of R26 000 he had withdrawn on behalf of his colleagues' savings club.
More
News
|