Projek wys wynboere gee om
2006-12-07
‘n REKORDGETAL wynplase van regoor die Wes-Kaap het ingeskryf vir vanjaar se Farm Health Awards, ‘n program waar erkenning gegee word aan produsente vir hul rol in die maatskaplike en menslike bemagtiging van die plaaswerkersgemeenskap.
Daar word ook erkenning gegee aan plaaswerkers vir hulle bydrae tot die landbou by die prysuitdeling wat vanaand gehou word.
Vanjaar het 118 plase vir die Farm Health Awards ingeskryf teenoor die slegs 13 plase wat deelgeneem het toe die projek in 2003 begin het.
Volgens Leslie Fillis, uitvoerende hoof van die Rural Development Network, beter bekend as Rudnet, onder wie se voogskap die Farm Health Awards geskied, is die toenemende aantal wynplase wat aan die program deelneem, bewys dat daar onder die boerderygemeenskap ’n daadwaarklike bewustheid van die belang van werkersopheffing is.
“Aan die begin van die Farm Health Awards het slegs sogenaamde spog-plase ingeskryf vir die projek, plase wat kan bekostig om in die verskillende behoeftes van hul plaaswerkers te voldoen,” sê Fillis.
“Wat tans verblydend is, is die aantal plase wat inskryf juis omdat hulle probleme in hierdie verband ondervind en Farm Health Awards se evalueringstelsel na die betrokke plaasomstandighede wil gebruik om te sien hoe hulle die toestande van hul werkers kan verbeter.
“Die plase besef dat die bydrae tot werkersopheffing en belange ononderhandelbaar is.”
Die plase wat volgens die evalueerders van die Farm Health Awards die grootste betrokkenheid in terme van sosio-ekonomiese opheffing ten opsigte van hulle werkers toon, word op 7 Desember aangewys, tesame met die Plaaswerker van die Jaar-toekenning.
Hierdie toekenning word gedoen aan die persoon wat deurentyd sy of haar toewyding ten opsigte van die bemagtiging van die plaaswerkergemeenskappe getoon het.
Die Farm Health Awards word bevonds deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou, sowel as die SA Wynindustrietrust (SAWIT).
Plase wat hulle vir die projek inskryf, word deur evalueerders van die Farm Health Awards besoek waar ‘n deeglike assessering gedoen word oor die betrokke plaas se ingesteldheid en fisieke bydraes tot werkersopheffing – van kindersorg tot diensvoorwaardes, vaardigheidsopleiding en maatskaplike dienste vir werkers tot behuising.
Elke deelnemende plaas kry ’n uitvoerige verslag oor die bevindings van sy sosio-ekonomiese omstandighede en bydraes, wat slegs vir die plaas se oë bedoel is. Aan die einde van die projek word die algehele bevindings van die totale ondersoek saamgestel waarmee die verskillende dele van die bedryf en die regering van die stand van sake op wynplase ingelig kan word.
Santi Basson, projekkoördineerder van Farm Health Awards, sê dat produsente al hoe meer besef dat die projek ’n unieke manier is om inligting te bekom oor plaaswerkersopheffing en die verwagtinge wat daar deesdae bestaan.
Laasjaar se wenners is Graham Beck Robertson, La Motte en Glenwood.
More
News
|