Verban hierdie vuurwerke vir ewig
2006-12-07
SATERDAGAAND 2 Desember is die stilte meteens verbreek deur die donderende vuurwerkvertoning van Grande Roche.
Troeteldiere het vreesbevange aan die blaf gegaan en verbouereerd ’n koers probeer invlug terwyl die inwoners van die rustige omgewing rondom die hotel vir die soveelste keer geïrriteerd hierdie waansinnige skouspel moes omwens.
Ek en ’n aantal inwoners het na die hotelhek gegaan en geëis dat die bestuur ons te woord staan. Na ’n gewag, terwyl die bomme in alle hel bo ons dorp losbars, kom ’n mev Prinsloo, en ’n kollega toe daar aan.
Sy verstaan nie hoekom ons so eksepsie neem teen die vertoning nie, en sal dit ook nie stop nie, want sy het die toestemming van die munisipaliteit om die vuurwerkvertoning te laat plaasvind.
Sy het dan ook reeds toestemming om dit op oujaarsaand om middernag weer te laat plaasvind.
Sy vertel ook toe dat haar huisdiere geen reaksie toon op die vuurwerke nie. Ongelooflik, mev Prinsloo!
Die vrae wat hier opkom, is die volgende:
* Hoe gee die munisipaliteit die toestemming vir hierdie waansinnigheid as die inwoners se opinie nie gevra word nie? Die feit dat daar in die koerant twee weke gelede ’n kennisgeging was, is eenvoudig nie goed genoeg nie.
* Indien ons met genoeg besware in die vorm van handtekeninge, briewe en e-posse na die munisipaliteit gaan, sal die munisipaliteit Grande Roche verbied om voort te gaan hiermee?
* Die afgelope paar weke was daar in die Paarl Post heelwat beriggewing in verband met die hel waardeur diere gaan met vuurwerke. Maak dit dan geen indruk op die munisipale besluitnemers nie?
Ons gaan in die volgende week probeer om so veel handtekeninge as wat moontlik is te kry om ’n einde te maak aan hierdie onding wat Grande Roche op ons afdwing.
Laat ons as inwoners, wat geregtig is op die rustigheid in ons woongebiede, reageer deur ons stem dik te maak en hierdie waansinnigheid in sy spore te stuit.
Stuur e-posse aan brampot@ absamail.co.za of stuur ’n faks na 872-9183.
Bram Potgieter Constantiastraat 1, Paarl
More
News
|