Newtons terug op die wenpad
2005-05-05
NA verlede week se verloorstryd teen Citrusdal, het Newtons se rugbyspan hulself reggeruk deur ’n baie sterk span van Villagers Montague met 31-27 te verslaan.
Newtons het die eerste helfte oorheers met sy pak voorspelers wat hulle teenstanders harde bene laat kou het.
Veral die tuisspan se losvoorspelers het behoorlik baljaar met die bal wat hul vaste vyf beskikbaar gestel het.
Newtons se oorheersing word weerspieël in die rustydtelling van 21-5. Ná rustyd het die tuisspan egter laat slaplê en die besoekers het met mening begin terugbaklei.
Tien minute voor die einde moes Newtons bly vasklou aan sy voorsprong, maar ’n skepskop deur sy skrumskakel, Roderick Claasen, in die doodsnikke kon Newtons weer laat asemhaal. Villagers het egter nooit tou opgegooi nie en Newtons se toeskouers het tot die einde naels gekou.
Newtons se uitblinkers was Clayton Hendricks, Hendrik Mars, Jacquin Johannes en Sandile Sijaji. Die driedrukkers was Hendrik Mars (2), Ahdiel Cassiem en Clayton Hendricks. Roderick Claasen was suksesvol met twee strafdoele en 'n skepskop en Andrew Shand het ook 'n doelskop oorgesit.
Newtons se volgende wedstryd is Saterdag tuis teen Bella Vista van Ceres.
Vineyards laat Atlantis les opsê
Gebrekkige skopwerk het Saterdag daartoe gelei dat Vineyards slegs 'n naelskraapse 17-14 sege oor Atlantis kon behaal.
Vineyards kon dié wedstryd op Daljosafat Stadion egter met ’n groter punteverskil gewen het as die skopper sy skopskoene aangehad het. John Koopman kon slegs slaag met een van drie doelskoppe en het ook drie strafskoppe binne trefafstand, verbrou.
Vineyards het rustyd 12-0 voorgeloop, maar twee doele deur Atlantis in die tweede helfte beteken dat die tuisspan in die laaste 10 minute vir dood moes verdedig.
Daleel Abrahams (vleuel), Abbas Hendricks (senter) en Anwar Dalvie (skrumskakel) het Vineyards se drieë gedruk.
Ander spelers wat ook uitgeblink het, was Hein Pretorius (stut), Wasfie Hendricks (flank) en die haker Makkie Heyns.
Die tweede span het 24-17 verloor en die derde span het 17-0 gewen. Vineyards speel Saterdag tuis teen die ligavoorlopers Silverleaf.
Violets verras vriend en vyand
Violets het Saterdag op Daljosafat Stadion weer eens sy man gestaan teen ’n begeesterde Sir Lowrians-span.
Dit het swaar gegaan in die eerste helfte teen die sterk pak voorspelers van Sir Lowrians. Violets se agttal was maar baie lig as gevolg van beserings.
Die besoekers het rustyd 5-3 voorgeloop.
Maar dit was ná rustyd dat Violets se kaptein, Hamly Marquid, hard met sy spelers gepraat het, dat dinge in die tuisspan se guns geswaai het.
Jeff Herklaas het baie mooi balle in die lynstane gewen en het oor die algemeen baie goed vertoon.
Aanval na aanval is geloods, maar geen punte kon aangeteken word nie.
Kort voor die eindfluitjie klits Malvern Pietersen nog ’n strafskop oor en Violets wen die wedstryd 6-5.
Die tweede span verloor 5-3 en die derde span wen 7-3. Saterdag speel Violets weer tuis teen Thistle.
Gardens klop Langa
Young Gardens se rugbyspan sukkel nog met ’n paar probleme, maar kon nietemin Saterdag daarin slaag om vir Langa 16-0 te klop.
Dit was die Rooi Rose se agterlyn met Jacques Bothma, Davey de Kock, Marlon Thomas, Joseph Dirkse, Ashley Jacobs, Jeremy Koukom en Charl Hendricks wat die grondslag vir ’n oorwinning gelê het.
Veral Hendricks het nie ’n tree terug gestaan vir Langa met hul aanvallende hardlooprugby nie.
Voorlangs het Gardens gesukkel en het Jeremia Hammers in die vastelos feitlik ’n alleenstryd gevoer.
As Gardens se voorspelers Saterdag teen Rangers enigiets wil uitrig, sal hulle geestelik sterk moet wees om Rangers veral voorlangs ore aan te sit.
Vir Gardens het Jacques Bothma en Jeremy Koukom elk ’n drie gedruk, terwyl Koordom ook slaag met ’n doelskop en ’n strafskop. Saterdag speel die twee derbyspanne, Gardens en Paarl Rangers, op Gardens Park teen mekaar. Die eerste wedstryd begin om 13:00 en beloof goeie rugby op te lewer.
More
News
|