Kavaliers moet eers Kimberley se gat uitklim vir plek in eindstryd
2005-05-05
DIE Boland Kavaliers speel Saterdag in een van die halfeindstryde van vanjaar se Vodacombeker-reeks.
Hoewel die Kavaliers Vrydagaand met ’n verwoestende vertoning in Oos-Londen die Grens Bulldogs 59-17 (25-3) geklop het, het ’n ewe hardnekkige sege deur die Blou Bulle wat die Cheetahs 46-41 geklop het, hul kans op ’n tuishalfeindstryd in die niet laat verdwyn.
Die Kavaliers het min teenstand gekry van die Grens-span wat al ’n week vroeër uit die kompetisie geval het. Die besoekers se agt drieë is deur Neil Papier (2), Ryno Benjamin (2), Jaco Engels, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, en Kobus Meintjies gedruk. Solly Goosen was suksesvol met drie doelskoppe en drie strafskoppe terwyl Patrick Petersen ook twee doelskoppe oorgesit het.
Die Kavaliers sal egter Saterdag op Kimberley behoorlik op hul stukke moet wees. Die Griekwas is die enigste span wat die seisoen nog net een wedstryd verloor het.
Die Kavaliers se afrigter, Hawies Fourie, was Woensdag oorgehaal om sy span vir Saterdag se wedstryd onveranderd te laat.
’n Vraagteken het egter nog oor die fiksheid van die agsteman, Henley du Plessis, gehang. Du Plessis het dié week nog glad nie geoefen nie ná hy Vrydag ’n ribbesering opgedoen het.
Daar sou gistermiddag oor sy beskikbaarheid vir die naweek se wedstryd besluit word.
Volgens Fourie verwag hy ’n groot aanslag in die skrums.
“Hulle neig om baie naby aan die skrums te speel, so ons sal poog om hulle hier te probeer neutraliseer.
“Hul lynstane is ook nie te goed nie, so ons wil hulle in dié faset onder druk probeer plaas,” het Fourie gesê.
Hy het bygevoeg dat die Griekwas se agterlyn ook heelwat beter is as die laaste keer toe hulle teen die Kimberley-span gespeel het.
“Alshaun Bock is weer terug op vleuel ná sy besering, terwyl hulle ook met MJ Mentz en Bobby Joubert in die agterlyn sit.
“Die ervaring van Braam van Straten, sy goeie verdediging en skopwerk, sal ook ’n groot rol vir hulle speel.”
Fourie beaam egter dat dit ’n reg of weg situasie is.
“Dit is nie meer nodig om bonuspunte te kry nie, al wat saak maak, is om te wen en dit is waarvoor ons gaan.”
More
News
|