Hy spoeg tog te lekker
2006-12-14
HY spoeg tog te lekker - en dit nogal in Afrikaans! Nee, Wynand Kriel is nie ongeskik nie, maar as Gio Vahk aka Dr Kapnoudis Hip Hop hy dat dit ’n naarheid is.
Wynand het sowat twee jaar gelede Paarl toe gekom saam met sy gesin, nadat hy matriek geskryf het aan die Hoërskool Duineveld op Upington.
“Ek het in standerd drie na Hip Hop begin luister en ook geskryf. In standerd ses het ek my eerste performance gehad en ook op die Upington radiostasie opgetree.”
Hier in die Kaap het hy sy groot kans gekry, nadat die manne van Evolution (Juan Pekeur, Wayne Jacobs en Gershwin Welman), hom ontdek het.
Hulle doel is om ’n platform vir nuwe kunstenaars te skep, talent te brei en te ontwikkel tot hulle ’n CD kan maak.
“Ons was op die uitkyk vir ’n oorspronklike en bemarkbare kunstenaar, toe ons op Wynand afgekom het,” vertel Juan.
“Die enigste probleem was dat die Kapenaars nie eintlik na Engelse Hip Hop luister nie,” beduie Wynand.
“Ek moes binne maande oorskakel na Afrikaans en was maar ’n bietjie onseker.” Maar hy het vinnig sy voete gevind en geniet dit nou.
Wynand het reeds genoeg materiaal vir vier CD’s, so daar is ’n groot verskeidenheid om van te kies vir sy eerste een.
Hy wil graag individue raak met sy musiek, veral diegene met probleme.
Maar alles is nie ernstig nie: “Ek wil ook probeer om mense te laat lag,” vertel hy van sy lirieke.
Belangstellendes kan hom deur sy bestuurder, Juan Pekeur, kontak by 079-414-3126 of cncpunch@servmat.co.za.
* Gio Vahk en Evolution gaan die vakansie ’n hele paar gratis shows in Wellington en Paarl gee, sommer om die somer te vier. So, hou maar die plakkate dop.
More
News
|