Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bloemiste sing van die liefde

Bloemiste sing van die liefde
 
2006-12-14


BAIE mense ken haar nou as die singende bloemis, maar binnekort sal die hele Drakenstein haar ken as die skepper van die Lied vir Drakenstein.

Bernie Hermanus is ’n bruisende, sjarmante vrou - lief vir blomme, maar ook lief vir dig en sing.

Onlangs het Gerchin Balie van die maatskappy Bereshith haar gevra om ’n lied te skryf vir Drakenstein wat hulle wou gebruik by ’n videofilm.

Come people of Drakenstein
Let’s pull ourselves together
Fight for your place in the sun.
Together we can fight poverty
Together we can live our dreams
Don’t let anything come in your way
Be proud, be strong!
In our beautiful town
That’s Drakenstein!

Dit is die pragtige refrein wat uit haar pen gevloei het.

Morné M Meyer van Wellington het die lied getoonset en hulle het dit by die onlangse plaaslike ontwikkelingsberaad bekend gestel.

Op die oomblik werk Bernie aan ’n solo CD om die lied tot almal se beskikking te stel.

Sy hoop dit gaan betyds vir 'n Kersfees geskenk op die rakke wees.

Sy het in die Paarl grootgeword as ’n nooi Louw en sing reeds sedert die tagtigerjare.

In daardie dae het sy aan ’n klub, die Go-Go Dancers, behoort en hulle was bewus van haar besondere talent.

“Een dag (dit was 1981) het hulle vir my gesê hulle het my ingeskryf vir die Mej Paarl- en die Mej Paarl Talentkompetisie.

Ons moes die middag na Fireball toe gaan, sodat hulle na my kan luister.

“Ek was uit die veld geslaan en het nie eens geweet wat om te sing nie. Uiteindelik het ek besluit op Sheena Easton se ‘For Your Eyes Only’ en dit was ’n treffer.”

Die dag van die kompetisie was sy so senuagtig dat sy heeldag niks geëet het nie, net kalmeerpille gedrink het.

“Die gevolg is dat toe ek by die gemeenskapsaal kom, was ek heeltemal lighoofdig en kon ek net die helfte van die lied onthou.”

Sy het bly uitstel vra totdat almal klaar was.

“Toe was dit sing of loop - en ek is nie iemand wat sommer tou opgooi nie.

“Toe ek eers op die verhoog staan, het ek gesing soos nog nooit tevore nie.

Sy wen die talentkompetisie en kom derde in die skoonheidskompetisie.

Haar prys was ’n ses maande toerkontrak saam met Boney M, waarvan sy nie gebruik gemaak het nie.

“Ek was 18 jaar oud en het nie regtig in ’n sangloopbaan belang gestel nie.

“Ek het uit ’n streng godsdienstige huis gekom waar my pa geglo het ons moet teen donker in die huis wees.

“Hy het nooit eers geweet van die prys wat ek gewen het nie.”

Bernie vertel dat sy uit ’n musikale familie kom.
Hoewel sy nooit sangles geneem het nie, het sy van jongs af die streng dissipline van professionele kore geken.

Vandag besef sy dat sang haar groot liefde is: “Ek is gebore vir die verhoog!”

Sy skryf die meeste van haar eie liedjies en sing jazz en liefdesliedjies in Afrikaans en Engels.

“Wat ek ook al sing, dit moet sin maak. Ek skryf die beste as ek alleen voel, of hartseer is.”

Haar stem herinner sterk aan Laurika Rauch s’n, wat sy beskryf as ’n ‘regte jazz-stem’ - hees en rokerig.

Bernie is vandag die eienaar van Flora Mia bloemiste in Nuwestraat, Paarl. Sy het haar loopbaan as bloemis op 17 begin met ’n kursus by Flowernook.

Hierna het sy ’n draai in Durban en die Kaap gemaak en sy en haar gesin het ook twaalf jaar in Mmabatho gewoon, waar sy ’n blommewinkel gehad het.

Terug in die Kaap het sy eers in Bellville gewoon en toe ’n winkel saam met haar suster gehad.

Maar vier jaar gelede het sy die stoute skoene aangetrek en haar eie besigheid begin.

Intussen is sy ook besig met ’n vollengte CD.

“Ek gaan vir myself ’n Kersgeskenk koop - ’n kitaar, sodat ek my eie musiek kan skryf.”

Sy sing graag by funksies en mense kan haar kontak by 073-879-8467.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za