Salaris kry toe oornag voete
2006-12-14
’n VROU se hele salaris is daarmee heen nadat daar vermoedelik deur OTM-skelms met haar kaart gepeuter is.
Sonja Nel het op 22 November ’n bank-staat gaan trek by die Standard Bank OTM by Heinz House in Optenhorststraat, Noorder-Paarl.
Nadat sy haar kaart in die gleuf van die masjien gedruk het, het vreemde woorde op die skerm verskyn wat sy nog nooit vantevore gesien het nie.
“Die skerm het nie gelyk soos wat dit gewoonlik lyk nie, en asof uit nêrens het ’n man agter my verskyn en gesê dat die masjien maar so is en hy het oor my skouer geleun en baie vinnig ’n paar knoppies gedruk.
“Net so vinnig soos wat hy verskyn het, so ook het hy verdwyn. Ek het my staat gekry, my kaart gevat en nie weer daaroor gedink nie.”
Nadat haar salaris aan die einde van November in haar bankrekening inbetaal is, is sy weer na ’n OTM toe om ’n staat te trek.
“Sondag wou ek ’n geldjie trek by die Standard Bank OTM in Noorder-Paarl, toe sê die masjien eenvoudig, ‘onvoldoende fondse.’
“Ek is in trane daar weg en Maandagoggend het ek en Stef voor Standard Bank in Lady Greystraat gestaan toe die deure oopmaak.
“Ons wou ’n verduideliking hê, maar niemand kon vir ons een gee nie.”
’n Volle bankstaat is deur die bankpersoneel gedruk, en daarvolgens kon hulle sien dat iemand sedert 1 Desember haar bankrekening met ’n koop-lus gestroop het.
Verskeie transaksies is in Mandalay, Langa, Athlone en selfs Wynberg gemaak.
“Ek sit steeds met my OTM kaart in my besit en kan nie verstaan hoe hierdie diefstal van my swaarverdiende geld plaasgevind het nie.
Selfs Stef weet nie eens wat die PIN-nommer van my kaart is nie.”
’n Woordvoerder van Standard Bank het gesê dat ondersoek deur hul bedrogtak ingestel word na die voorval.
“As dit gevind word dat die klaer wel ’n slagoffer van bedrog is, sal die geld ten volle in haar rekening terug betaal word.”
Volgens verskeie webtuistes is daar tans wel ’n bedrogsindikaat wat OTM verbruikers teiken.
Hulle koppel glo ’n kopieer-toestel aan ’n OTM masjien en wanneer jou kaart daarin geplaas word, lees die toestel die kaart se inligting.
Wanneer die kaart uitgehaal word, kan die bedrieërs die toestel verwyder, en hulle maak dan ’n duplikaatkaart.
OTM-verbruikers word aangeraai om nooit enige hulp van omstanders te aanvaar nie, en om onmiddellik die transaksie te kanselleer as iemand die masjien nader terwyl jy doenig is.
As die OTM ooit anders lyk as gewoonlik, of die verbruiker het enige twyfel, moet hulle hul kaart verwyder en binne die bank om hulp gaan vra.
* ATM fraudsters have stolen a woman’s total salary from her bank account in a number of transactions, while she still has her bank card in her possession.
More
News
|