Amstelhof se inwoners baie ontevrede
2006-12-14
OP 11 Oktober is daar briewe aan die munisipaliteit gegee met handtekenings van die inwoners van Kiewietstraat, Amstelhof, oor probleme en versoeke wat op verskeie geleenthede oor die afgelope jaar reeds aangegee was.
Hierdie woonstelle, wat aan die munisipaliteit behoort, is by verre in die beste toestand van al die woonstelle in die Paarl area. Die rede hiervoor is dat die inwoners self sorg dat die plek se toestand goed bly.
Agter Blok B2 is ‘n Wendyhuis wederregtelik opgesit, wat ons verwyder wil hê.
Ons vra ook dat die halfgeboude murasies afgebreek word om dwelmprobleme te verminder.
Ons vra verder vir ‘n speelpark en ‘n omheinde gebied met ‘n tuin, bankies en braaiplekke.
Die enigste reaksie was ‘n sin wat sê dat mnr Phelan ons sal kontak vermoedelik in verband met die laaste versoek.
Dit lyk asof ons stadsraad nie vir ons mense omgee nie en ons nie ernstig opneem nie.
Delia Matthee
Die munisipale woordvoerder reageer as volg: Die skrywer is telefonies gekontak deur die afdeling wat verfraaiing doen.
‘n Ter plaatse inspeksie is ook gedoen om te kyk wat gedoen kan word in terme van bankies, braai-areas, ens.
Sy is ingelig dat sodra die werksprogram en begroting dit toelaat, sal daaraan aandag gegee word.
Soortgelyke projekte is tans aan die gang in verskeie areas in Paarl-Oos, Newton, Mbekweni en Wellington. Die skrywer is dus nie korrek met die stelling dat die Raad nie omgee wat betref projekte van hierdie aard nie.
Wat betref die Wendyhuis en “murasies” is die klagtes deurgegee aan die relevante departemente.
More
News
|