Nagmerrie-duik verlam seun (14)
2006-12-14
DIE nag het Eon Pace van Noorder-Paarl gedroom hy verdrink. Daarom het hy die volgende dag saam met sy jonger nefies strand toe gegaan - om hulle op te pas.
In sy droom het Eon (14) egter nie gesien hoe hy in ’n sandbank vasduik, hoe die nege-jarige Anrich Mostert hom red, en hoe hy vandag verlam in ’n rystoel sit nie.
Met Anrich beskermend aan sy neef se sy by hul woning in Premierstraat, vertel ’n dapper Eon van die nagmerrie in die seewater by Dwarskersbos op 1 Oktober.
“Ek wou nie swem nie en het op die strand gelê, maar toe het ek tog ingegaan.
“Die vorige dag was dit hoogwater, en ek het in ’n diep gat geduik, maar hierdie keer was die water laag, en ek het met my kop in die sandbank vasgeduik.”
Anrich praat verder.
“Eon het so stil op sy maag in die branders gelê, en ek het net borrels by sy mond sien uitkom. Toe tel ek sy kop op en hy sê hy verdrink.
“Ek het nog gesê hy moenie joke nie, want hy maak altyd sulke grappe in die swembad. Maar toe huil hy en toe weet ek hy is ernstig.”
Anrich het vir Eon op sy rug gedraai, uit die water gesleep en hulp ontbied.
“Ek het gevoel in my liggaam gehad, maar ek kon net my kop beweeg,” het Eon vertel.
“Ek was so bang.”
Eon is op ’n kombers van die strand af gedra tot waar ambulanspersoneel hom opgetel en na die hospitaal in Vredenburg gehaas het. Vandaar is hy na die Groote Schuur Hospitaal.
Sy vierde nekwerwel het gebreek, met fragmente wat die rugmurg beskadig het. Hy is in die hoësorgeenheid opgeneem en onder verdowing gehou.
Sy ma was permanent by hom.
“Dit was hel vir hom. Ek het baie dae buite die hospitaal tussen die duiwe gesit en gehuil.”
Sy vertel dat ’n deeltjie uit sy heup in ’n drie-uur lange operasie geneem is om die werwel te herstel. Hy was byna twee weke lank aan buisvoeding gekoppel.
Met sy kop in traksie het hy dae aaneen net na die plafon bly staar.
“Ek het net bly wonder of ek ooit weer gaan regkom,” vertel Eon vandag in sy rystoel, sy hande in sy skoot gevou.
Tien dae later is hy oorgeplaas na die rehabilitasiesentrum by die Lentegeur Hospitaal in Mitchellsplein.
Sedertdien ry sy ma elke aand, sewe dae van die week, die lang pad om haar enigste kind te onderskraag. Hulle het geen mediese fonds nie.
Hierdie was die derde naweek dat Eon toegelaat is om huis toe te kom, maar slegs nadat ’n spesiale bed en matras teen groot koste aangeskaf is.
Hy mag ook tussen Kersfees en Nuwejaar tuis bly, maar daarna sal die ryery Mitchellsplein toe vir sy ma, ’n enkelouer, weer van vooraf begin.
“Die dokters hoop dat Eon einde Februarie ontslaan sal word, maar slegs indien hy goed genoeg reageer op fisio- en arbeidsterapie.
Tuis sal die behandeling nog lank moet voortgesit word.
“Ons het so baie om voor dankbaar te wees,” sê Cindy.
“Ons weet nie hoe lank dit gaan neem nie, maar Eon werk hard saam met die fisioterapeute en ek twyfel nie vir ’n oomblik dat hy weer sal loop nie.”
Drie weke gelede het Paarliet, Johan Pretorius, vir Eon kosteloos met ’n Switserse patent, die Bio Optron, begin behandel.
“Die geel lig help bloedsirkulasie en selgroei. Die spasma het verminder en die swelling in sy voete het verdwyn,” vertel Cindy dankbaar.
Eon kan vandag al sy arms beweeg.
Sy ma het ook nou vir hom ’n duur dieetaanvulling begin gee, wat ontwerp is om selle op te bou.
“Dit kos baie, baie geld,” sê Cindy, “maar ek sal enigiets doen om my seun te help.”
En wat wil Eon, ’n graad agt leerder wat slot in die o.14 tweede rugbypan van Hoërskool Gimnasium gespeel het, doen sodra hy weer kan loop?
“Touchies speel,” sê die vriendelike seun sonder aarseling.
Maar voor daardie dag is dit nog Kersfees, en Eon het ’n groot wens wat hy nie hardop wil uiter nie, want hy weet vir sy ma is dit onhaalbaar.
’n Skootrekenaar is waarvan hy droom, sedert die wonderlike dag dat sy LO-onderwyser en rugbyafrigter, Rudi Pretorius, hom by Lentegeur verras het.
Hy besoek hom nou gereeld, en bring elke keer sy skootrekenaar saam. Eon kan al goed die sleutelbord raakdruk met ’n stokkie wat aan sy hand vasgemaak is.
Intussen luister hy na musiek, en hy lees, en hy bid baie.
“Die Here is goed vir ons,” sê sy ma.
“En sy maats ook. En die wonderlikste mense het oor ons pad gekom. Ons wil vir almal so innig bedank vir wat hulle vir ons beteken.”
Bydraes om Eon se lewe te vergemaklik en met sy ma se vervoerkoste te help, kan inbetaal word in ’n Paarl Absa spaarrekening van C Pace, nommer 408209315.
* A 14-year-old Paarl schoolboy is paralysed after diving into a sand bank in the sea.
More
News
|