Boxing Day hoopvolles kan bene strek
2006-12-14
DIE Rhadsport Fietsryklub bied op Vrydag 22 Desember sy jaarlikse byeenkoms op die Faure Stadion aan.
Twee van die gunstelinge vir die jaarlikse Boxing Day Byeenkoms se 25 Myl-wedren, die beroepsryers Nolan Hoffman en Garth Thomas wat beide uit die Rhadsport-stal kom, het reeds te kenne gegee dat hulle gaan deelneem as losmaker vir die 25 Myl.
Thomas is tans die verdedigende kampioen in die 25 Myl. Die organiseerders onderhandel nog om die Suid-Afrikaanse baanryer, Gary Rabie, ook te oorreed om aan die byeenkoms deel te neem.
Beide Nolan en Thomas kan sterk teenstand verwag van hul voormalige spanmaats, Reggie Benjamin en Gerswin Vlotman, wat vanjaar baie verbetering getoon het.
Ivano Siebritz en Ashley Kulsen is ook stadig maar seker besig om hul beste vorm te herwin en kan ook verras.
Durwin Benjamin en Verdi Faroa van die Liberty-span sal ook saamspan in ’n poging om die gunstelinge te uitoorlê.
In die o.16 afdeling is Clint Hendricks tans die sterkste ryer, maar die besoekende Robert du Preez van KwaZulu-Natal kan hom sterk teenstand bied. Du Preez het juis Hendricks verlede week in die uitvalwedren getroef.
Brandon Christians kan met sy positiewe ryery vir ’n verrassing of twee sorg.
In die o.14 afdeling is die jong Wayne Botha tans by verre die sterkste ryer, maar is verlede week deur die belowende Joshwill Davids van Yorkshire getroef in die 1500m.
Die ope ryers sal meeding in die 1500m, uitvalwedren, 15 ronde puntewedren en 40 ronde gelykstaanwedren. Die o.16 ryers sal deelneem aan die 1500m, 10 ronde puntewedren en 15 ronde gelykstaanwedren, terwyl die o.14 ryers aan ’n 800m, 1500m en 10 ronde gelykstaanwedren sal deelneem.
Wedrenne vir ontwikkelingsryers sal ook aangebied word. Die byeenkoms begin om 19:00 en toegang is R5 vir volwassenes (R2 vir kinders en gratis vir kinders jonger as 10 jaar).
More
News
|