Wellington eindig jaar goed
2006-12-14
ONDANKS ’n goeie telling kon Novel Paarl Saterdag nie vir Wellington Krieketklub tot oorgawe dwing in hul Boland ligawedstryd op die Pen Basson-veld nie.
Die besoekers het 229/7 in hul toegelate 60 beurte aangeteken, danksy ’n uitblink-beurt deur Lynal Jansen.
Jansen se onoorwonne 106 lopies het 12 grenshoue ingesluit. Hy is goed bygestaan deur Ultalyn Ernstzen (67 4x5, 6x3) en Leroy Walters (25).
Ryan Groeneveldt (3/67 in 15bb) en Sarel Wolmarans (3/32 in 15bb) was die gif in Wellington se boul-aanslag.
Die tuisspan kon egter net met 164/7 antwoord, nadat Dawie Malan (53 4x2, 6x2) en Christi Schreuder (34nun 4x2) goed met die kolf ingeklim het.
Alfredo Adams (2/14 in 11bb), Lyndon Fredericks (2/36 in 12bb) en Rohan Goetham (2/44 in 13bb) was die besoekers se beste boulers. Wellington het Sondag ook op sy tuisveld teen Vredenburg/Saldanha te staan gekom.
Die Weskussers is in die 51ste beurt vir 115 uitgeboender, danksy die sekure boulwerk van Christo Ritter (3/27 in 14bb), Ryan Groeneveldt (1/11 in 8bb), Josh Swanepoel (1/20 in 9bb) en Sarel Wolmarans (3/33 in 15bb).
Quinton Kannemeyer (34 4x3) en B Barnard (38 4x2, 6x2) was die besoekers se voorste lopiemakers.
Wellington behaal die teiken in die 28ste beurt, met slegs twee paaltjies plat.
Roswhin Jephtha (66nun 4x11) en Warren Groeneveldt (28 4x4, 6x1) het die boulwerk met minagting behandel.
Shane Summers (1/8 in 6bb) en D van Wyk (1/19 in 8bb) het hard probeer.
More
News
|