Singende vampiere in Baxter
2006-12-20
DIE produksie van Fangs, die skreeusnaakse Suid-Afrikaanse rock-musiekspel, die Baxter-teater is ‘groter en beter’ as vantevore.
Drie van ons bekendste akteurs, Tobie Cronjé, Bill Flynn en Michael Richard speel hul oorspronklike rolle wat vantevore die gehoor laat slaplê het van die lag.
Die rolle is dié van die polisiesersant wat ’n vampierjagter is, die Elvis-nabootser met die naam van Suckula (omdat hy ’n bloedsuier is) en die heeltemal mal psigiater.
Die stuk word geregisseer deur Tim Plewman (ook bekend as die ster van Defending the Caveman).
Die stuk handel oor ’n Johannesburgse vampier wat sy tande verloor het. Dis oorspronklik in 1977 opgevoer en nou heeltemal hernieu.
Bill Flynn en Tim Plewman het die ou teks oorgeskryf en aangepas sonder om die komiese oomblikke van die oorspronklike te verloor.
Hulle het ook die lirieke oorgeskryf en Bobby Louw het nuwe musiek geskryf wat bestaan uit ’n kruisbestuiwing van musikale style van die veertigerjare tot vandag.
Fangs bestaan uit 15 lede wat Flynn, Cronjé en Richard asook Catherine Daymond, Jo Galloway, Vanessa Harris, David James, Stephan Marneweck, Zane Gillian, Tandi Meikle, Davel Anitra, Jodie Renouf en André de Beer insluit.
Die produksie is op die planke oor die feesseisoen tot 7 Januarie.
Kaartjies kos tussen R150 en R240 en is beskikbaar by Computicket of by 083-915-000. Vir korporatiewe besprekings en spesiale pakkette, skakel Sharon by 680-3962. Vertonings vind plaas van Dinsdae tot Vrydae om 20:00, Saterdae om 17:00 en 20:00 en Sondae om 15:00.
More
News
|