Top jaers in Paarl
2006-12-20
DIE jaarlikse Boxing Day fietsrybyeenkoms vind weer plaas op 26 Desember by die Faurestraat-stadion en beloof om ’n voortreflike byeenkoms te wees.
Vanjaar sal dit die 109de keer wees dat dié spoggeleentheid, wat as die oudste baanfietsrybyeenkoms ter wêreld beskou word, plaasvind.
Vanjaar se byeenkoms sal die grootste prysgeld van enige baanfietsrybyeenkoms in Suid-Afrika bied, met ’n eerste prys van R15 000.
Ryers sal dit ook uitspook vir die gesogte, egte silwer, Minnaar en Awie Basson trofeë.
Die aanloklike prysgeld en die prestige van die byeenkoms het daarvoor gesorg dat talle van die land se top baanfietsryers vanjaar ’n draai in die Paarl gaan kom maak.
Nie net sal fietsry-geesdriftiges getrakteer word om die huidige SA kampioene soos Gerswin Daniels en Robert du Preez in aksie te sien nie, maar top fietsryers soos, Nolan Hoffman, Garth Thomas, Morné Blignaut, Michael Pepper, Dean Edwards, Reniell Mathyssen, Durwin Benjamin en Ashley Kulsen sal in volle vaart meeding.
Ryers neem deel in die 400m, 1500m, uitval-wedren, punte-wedren, die 1 myl uitnodiging en die 25 myl uitnodiging.
’n Volle program word ook aangebied vir die jongspan met afdelings van o.10 tot o.16.
In die veterane afdeling sal ryers soos William Newman, Jaco Scholtz, John Moss en Corné Berry meeding om die Charles Potgieter trofeë.
Intussen het Hein Kroff, direkteur van Baanfietsry, Suid-Afrika, bevestig dat die SA keurders die Boxing Day-byeenkoms met ’n valkoog sal dophou, met die oog op die saamstel van ’n kortlys vir die 2007 Wêreldkampioenskappe.
“Dit beloof dan ook om ’n puik byeenkoms te wees, want die ryers sal hul bes wil lewer om die keurders te beïndruk,” het Kroff gesê.
Die hekke van die stadion open op Dinsdag 26 Desember om 12:30 en die byeenkoms begin om 14:00.
Toegangsgeld beloop R15 vir die hoofpawiljoen en R10 vir die oop-pawiljoen.
Navrae kan gerig word aan Hein Kroff by 082-456-0145 of André Abrahams by 082-776-2939.
More
News
|