Verdagte kry voete
2007-01-11
’n BERUGTE jong man van die Paarl het Dinsdagoggend letterlik voor die oë van die polisie verdwyn nadat hy vir diefstal in hegtenis geneem is.
Stefan de Jager (22) en nog twee mans, Nico Visser (25) en Mark Malgas (32), is in die vroeë oggend-ure Dinsdag op heterdaad betrap toe hulle vermoedelik petrol probeer steel het by ’n munisipale stoor in Distillerystraat.
Hulle is deur lede van die polisie saam met De Jager se Toyota wat op die toneel was, na die Paarl poliestasie geneem.
Voor die stasie is De Jager gevra om sy voertuig agter in die parkeer-area te gaan parkeer, maar hy het met sy motor van die toneel gevlug.
Teen druktyd was hy steeds op vrye voet terwyl die polisie ’n intensiewe soektog na hom geloods het.
De Jager en Visser is verlede jaar in hegtenis geneem in verband met duur wieldoppe wat by die Renault vertoonkamer in Suider-Paarl verdwyn het.
Hulle was ten tyde die jongste voorval op borgtog, maar daar was weer ’n lasbrief uit vir die inhegtenisname van De Jager.
De Jager en Visser word ook tans verbind met nog vyf ander sake van huisbraak en diefstal vanuit motorvoertuie.
Die huis in Nuwe Vleistraat waar De Jager gewoon het, is in Oktober tydens ’n klopjag deursoek nadat die polisie inligting ontvang het dat Tik vermoedelik op die perseel vervaardig is.
Enigiemand met inligting in verband met de Jager kan vir insp Jerome Steenkamp skakel by 021-807-4000.
* A young man wanted by the police has managed to escape custody after fleein
More
News
|