Rekenaarroof lê skool lam
2007-01-11
VIR die leerlinge van Nieuwedrift Primer in Noorder-Paarl is daar slegte nuus volgende week wanneer die skole vir die nuwe akademiese jaar open.
Op Oujaarsaand is daar by die skool ingebreek en diewe het rekenaartoerusting ter waarde van R48 000 uit hulle rekenaarkamer gesteel.
Agt leerlingwerkstasies, die opvoederswerkstasie, ’n drukker en skandeerder was onder die gesteelde goedere. Gesteelde sagteware, ander skade aan die rekenaarkabels, deure en veiligheidshekke beloop ’n verdere R20 000 en dit sal die skool omtrent R100 000 kos om die stelsel weer 100% in werking te kry.
“My grootste hartseer is dat die skool se leerders nog nie eens die geleentheid gehad het om die ten volle toegeruste rekenaarlokaal te benut nie, aangesien Khanya (WKOD se IT-afdeling) dit eers einde verlede jaar voltooi het,” sê skoolhoof Chris Bam.
Veertien rekenaars was geskenk deur Pick ’n Pay en Windmeul Eierboere.
“Ek het my vakansie kortgeknip en teruggekom Paarl toe om aandag aan die saak te skenk.”
Volgens Bam het die skool alle voorgeskrewe departementele veiligheidsmaatreëls gevolg en in plek gehad.
Daar is genoegsame diefwering, ’n elektroniese alarmstelsel met gewapende reaksie én gereelde skoolbesoek is deur die opsigter, Richard Kasipele, gedurende die vakansie gedoen.
As deel van die veilige skole-projek, subsidieer die Onderwysdepartement sommige skole vir gewapende reaksie en verwag daarom ’n volledige verslag ingeval van ’n inbraak.
“Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie en wag nog vir ’n verslag van die sekuriteitsmaatskappy AC Rottweiler, wat ek met my eie verslag aan die departement moet voorlê,” het Bam gesê.
Kasipele het die inbraak op Nuwejaarsoggend ontdek op sy daaglikse patrollie toe hy die plante kom water gee het.
Hy vertel dat die inbrekers vermoedelik toegang tot die skoolterrein aan die agterkant en uit die openbare oog verkry het.
“Die voertuigspore lê langs die draad hier agter die skool en drie veiligheidshekslotte is deurgeknip om ’n voertuig so na as moontlik aan die rekenaarlokaal te kry sodat hulle die gesteelde goed kon wegry.
“Ek het die sekuriteitsmense ontbied. Die wag wat hiernatoe gekom het, het per radio navraag gedoen. Sy beheerstasie het laat weet dat die alarm wél by hulle afgegaan het en hulle sou kon sien presies by watter lokaal ingebreek word want hulle het die skool se bouplan.”
By navraag het AC Rottweiler Sekuriteitsdienste-hoof Alan Carolissen gesê: "My mense was die nag daar, ek het bewyse daarvan. Hulle het egter niks uit plek gevind nie."
Carolissen doen nou self ondersoek na die aangeleentheid. Die skool is tans besig om inligting in te win oor alternatiewe veiligheidsmaatreels. Mense met inligting kan kaptein Riël Vlotman vertroulik bel by 021-807-4073.
* RC Computers in die Paarl middedorp was ook ’n slagoffer van inbrekers toe daar om 23:30 op 27 Desember toegang tot die perseel verkry is nadat ’n syvenster gebreek is en die diefwering oopgedwing is.
’n Verbyganger het onraad vermoed en die vermeende rowers het vinnig padgegee in ’n maroen-kleurige Renault voertuig.
In hul haas het hulle twee skootrekenaars op die sypaadjie laat val, maar het wel daarin geslaag om met ’n Proline rekenaar ter waarde van R5000 te ontsnap.
In nog ’n inbraak is ’n rekenaar en ander kantoortoerusting vanuit ’n kantoor in Triangle Park, Daljosafat, gesteel.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die voorvalle nie. Enige inligting kan vertroulik oorgedra word aan kapt Vlotman.
* Burglars stole nine computers and other equipment from Nieuwedrift Primary.
More
News
|