Skole-krieketspelers pronk in toernooi
2007-01-11
DIE Boland Krieketraad verkondig nog al die jare dat hy oor die beste kriekettalent in die land beskik - en die uitslae van die afgelope skolekriekettoernooie bevestig die uitlating.
Die Bolandse o.15-span het vir die tweede agtereenvolgende jaar die PG Bison toernooi onoorwonne afgesluit.
Tydens vanjaar se toernooi, wat in Johannesburg gespeel is, het Boland met Grens/Kei, SWD, KwaZulu-Natal, Grens en Gauteng klaargespeel.
Die Boland het die Kei/Grens (65) met nege paaltjies geklop, met Dewald Botha (5/8), Byron Haycock (3/4) en Steven Baard (40nun) wat uitblink. Daarna het die SWD (103) ook met nege paaltjies in die hek geduik. Riyaad Henry (3/10), Rabian Engelbrecht (3/25), Botha (51nun) en Edrich Cook (30nun) het die sege verseker.
In sy derde kragmeting was Boland (228/9) te sterk vir Natal (161), nadat Botha (59 en 3/42), Shandré Claasen (46) en Haycock (3/44) inklim-spel lewer.
Grens (156) was volgende aan die beurt toe die Boland (157/8) hier met twee paaltjies geseëvier het.
’n Onoorwonne 71 deur Cook en Baards se syfers van 3/15 het die wa deur die drif getrek.
In sy laaste wedstryd het die Boland vir Gauteng (136) ook met twee paaltjies geklop danksy uitblink-vertonings deur Henry (3/39) en Botha (24).
Die Boland o.17 span (204) het net in sy wedstryd teen Noord-Gauteng (205/4) die onderspit gedelf, maar was suksesvol in sy ander drie wedstryde.
Boland (68/2) het goed begin toe hy vir KwaZulu-Natal Binneland (67) met agt paaltjies geklop het.
Du Toit Kemp (6/13), Frené Juries (3/10) en Wikus van Vuuren (33nun) was die wenspan se uitblinkers.
’n Ewe goeie agt paaltjie sege is ook oor Mpumalanga (131) behaal met Clayton Blommetjies (3/34 en 31), Juries (2/21), Ryno Papier (2/27) en Kriek (62) wat die span deurdra.
Ondanks ’n verdedigbare totaal van 229 moes ook die WP die knie buig teen Boland (230/7).
Imran Nackerdien (57), Franco Marais (54), Blommetjies (45) het met die kolf ingeklim, terwyl Papier (2/25) goed geboul het.
Die Boland o.19-span het twee nederlae gelei - teen die WP en Noordelikes - tydens die toernooi wat op Stellenbosch gespeel is. Dit het hom van ’n algehele vierde plek besorg.
Die Boland (137/4) het Grens (135) in sy eerste wedstryd met ses paaltjies geklop, danksy Dale Campbell (41nun) en Johan Bothma (3/55).
Die WP (175/9) het Boland (161) met 14 lopies geklop, met Lenert van Wyk (51) wat vir die Wynboere uitblink.
Hierna was Boland twee keer aan die wenkant toe hy eers vir Gauteng (133) met vyf paaltjies geklop het en daarna vir Oostelikes (177) ’n loesing van ses paaltjies gegee het.
In sy laaste wedstryd is die Boland egter stewig in ’n blik gedruk toe Noordelikes (264/5) hom met 151 lopies geklop het.
Ockert Erasmus se 32 en Matthew Arnold se vyf paaltjies was al hoogtepunte vir die Boland in dié slagting.
More
News
|