Skoonheid kry haar matriekafskeid
2007-01-11
DIT sou haar matriekafskeid van ’n leeftyd wees. Maar die droom-matriekrok het ongebruik in die kas gehang met die splinternuwe skoene nog in die skoendoos wat sy nooit die kans sou hê om na haar matriekafskeid te dra nie.
Matrikulant Gretchen Arendse van Siebritsstraat, Paarl-Oos, ’n vorige Mej Klein Nederburg Sekondêr, vertel:
“Ek het so uitgesien na die matriekafskeid, en toe beland ek in die hospitaal in Tygerberg. My bors het toegetrek sodat ek byna nie kon asemhaal nie.
“Die dokters het bloed getrek en toetse gedoen. Hulle het gesê ek sal herstel, maar hulle kan nie die teleurstelling en hartseer gesond maak nie.
“Ek voel so kwaad en gefrustreerd. Soos al my ander maats, het ek vreeslik uitgesien na die matriekafskeid en toe gebeur alles sommer net deurmekaar.
“Die eerste skok het vroeër gekom toe die skool se afskeid uitgestel was vir die Cultivaria-fees. Al die matrieks moes maar verlief neem tot die Woensdag ná die eksamen.
“Toe gebeur dìt. Maar ek is dankbaar en ek dank die Here dat ek besig is om gesond te word.”
Gretchen het onverklaarbaar ’n virus-infeksie opgedoen wat haar longe aangetas en tot dubbele longontsteking gelei het. Op die vooraand van haar skool se matriekafskeid is sy in ’n ernstige toestand in Paarl Hospitaal opgeneem.
Haar toestand het so versleg, met ’n long wat platgeval het, dat daar vir haar lewe gevrees was. Sy is oorgeplaas na die intensiewe sorgeenheid by Tygerberg Hospitaal en aan asemhalingsmasjiene gekoppel omdat sy nie vanself kon asemhaal nie.
Vir meer as drie weke moes sy in die hospitaal bly, voordat dokters tevrede was dat sy huis toe kon kom. Sy sterk tans verder tuis aan. Dié gebeure het veroorsaak dat sy haar matriekafskeid misgeloop het.
Gretchen se ouers, Arrie en Delene, het besluit om hul jongste spruit te verras en het haar eie matriekafskeid by die huis gereël, kompleet met genooide gaste en ander matriekmaats.
Terrance Dean was haar metgesel soos oorspronklik beplan en nuuskieriges het nadergestaan om die petalje gade te slaan toe sy te voorskyn kom.
Geklee in ’n lemmetjiegroen laehals rok wat almal na hul asems laat snak het, het die paartjie hul plekke by die tafel gaan inneem. Pa het 'n toespraak gemaak en ma en die ander se trane het soos gewoonlik gerol.
“Ons is bly jy is besig om heeltemal gesond te word sodat jy kan voortgaan met jou lewe en verder studeer.
“Ons is trots dat jy hierdie terugslag so goed verwerk en dat dit nie blywende letsels laat nie. Jy moet so aanhou en voortgaan ook met jou modelwerk,” het pa Arrie gesê.
Gretchen sê dat sy beplan om in 2007 drama te studeer.
* A Paarl matriculant who missed her matric dance due to serious illness held a private matric party with some friends.
More
News
|