Bacchus op die planke
2007-01-11
BARTHO SMIT se Bacchus in die Boland, ‘n opdragkomedie van Kruik wat die oggend van die openingsaand in 1975 verbied was, kom nou meer as 30 jaar later tot sy reg in ‘n opvoering by Kunstekaap, wat weens die onderwerp van grondverdeling nou uiters relevant is. Dit is dié naweek deel van die Suidoosterfees en drie lesers kan kaartjies wen.
Dit dui daarop dat dié komedie sy tyd vooruit was. Ander kontensieuse onderwerpe soos die “terroris” wat plaaswerkers oprui, liefde oor die destydse verbode kleurlyn, die dopstelsel op plase en die mishandeling van plaaswerkers kom ook aan boord en word nou uiteraard van ‘n ander hoek belig weens die veranderde politieke bestel.
Bacchus, die mitiese god van wyn, besoek die bullebak-wynboer, Willem Adriaanse (Chris van Niekerk), wat sy plaaswerkers, vrou en buurman met ‘n sambok en skel regeer.
Adriaanse en Bacchus daag mekaar tot ‘n skreeusnaakse drinkwedstryd uit met die Dominee as skeidsregter!
Bacchus wen natuurlik en omdat hy ook die god van teater was, volg ‘n spel binne ‘n spel met Bacchus as die tiraniese plaaseienaar en Adriaanse as een van die onderdrukte plaaswerkers in ‘n poging om hom gelykheid en broederlikheid van alle mense te leer. ‘n Verrassende einde volg.
Die spelers onder regie van Heinrich Reisenhofer is Oscar Petersen, Chris Van Niekerk, David Johnson, Nanine Wessels, Lianda Snel, Jeremy September, Brendan Daniels, Antonio Fisher, Marius du Plooy en Mary Daniels.
Dit is op die planke vandag om 17:00, more om 16:30, Saterdag om 10:00 en Sondag om 19:00.
* Ses lesers van die Paarl Post kan elk twee kaartjies wen vir ‘n vertoning van hierdie toneelstuk. Stuur ‘n epos met jou naam, die datum van die opvoering wat jou pas en jou telefoonnommer na edit@paarlpost.co.za.
More
News
|