Dokters moet praat oor rookgewoonte
2005-05-12
DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) doen ’n beroep op alle dokters en mediese personeel om op te hou rook en hulle pasiënte aan te moedig om ook so te maak om die voorkoms van kanker en die 25 000 jaarlikse sterftes in die land as gevolg van tabakverbruik, te verminder.
Kansa se Mei-veldtog is in lyn met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se Wêreld Geen Tabak Dag op 31 Mei wat dié jaar fokus op “die rol van die mediese beroep in tabakbeheer”.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar jaarliks bykans vyf miljoen tabakverwante sterftes wêreldwyd.
“Die mediese beroep kan baie invloed uitoefen deur self nie te rook nie en hulle pasiënte in te lig oor hoe om op te hou rook,” sê Kansa Hoof Uitvoerende Beampte, Niamaat Gamildien.
“Hulle kan ook ’n beduidende invloed hê op kinders en tieners deur hulle te waarsku oor die gevare van tabak en seker te maak dat huise en werkplekke rookvry is.”
In Suid-Afrika het wetgewing wat rook in openbare plekke verbied, asook die beperking op reklame vir tabakprodukte reeds gehelp om rook te verminder.
Meer moet egter gedoen word om te verseker dat wetlike vereistes nagekom word en om die aktiwiteite van tabakmaatskappye te monitor omdat hulle tabakprodukte aggressief bemark, veral aan die jonger geslag.
“Kansa ondersteun die onlangse styging in belasting op tabakprodukte, maar dié inkomste moet teruggeploeg word in opvoeding en bewusmakingsprogramme in alle skole en gemeenskappe,” sê Gamildien.
Om nie te rook nie, is een van Kansa se gesonde leefstylboodskappe om die risiko van kanker te verminder.
Die organisasie sê ook mens moet gesond eet - veral baie groente en vrugte; jou tyd in die son beperk; volop vars water drink; alkoholinname beperk; gereeld oefen; gereeld selfondersoek doen en jaarliks mediese toetse laat doen.
Kanker kom voor wanneer abnormale selle groei, vermenigvuldig en ’n gewas vorm.
As dit nie opgespoor en behandel word nie, kan dit na ander liggaamsdele versprei.
Behandeling kan chirurgie, chemoterapie, bestraling of ’n kombinasie van aldrie insluit.
Vir meer inligting, kontak Mareé Lambrechts by tel 876-3589 of e-pos mlambrechts@ cansa.org.za.
Mense kan ook Kansa se tolvrye Inligtingsdiens skakel by 0800-22-66-22 of www.cansa.org.za besoek.
More
News
|