Pasop vir diewe by supermarkte in Paarl
2005-03-09
EK is ‘n gereelde kliënt by ‘n supermark in die onderste deel van Lady Greystraat, Paarl.
Op 26 Februarie om 12:30 was ek op pad na die deur, met langs my ‘n kort man wat heeltyd na my sak gekyk het en wat daarin was. Voor my het ‘n langer man geloop.
By een van die kassiere het ‘n oom met sy pakkies uitgekom - in sy linkerhand het hy ‘n emmer gedra en in die ander hand twee sakke met kos. Die groot man het verby hom geloop en vreeslik gekyk wat in die sakke was.
Hy het toe omgedraai en weer teruggekom en weer in die sakke gekyk en toe iets vir die kort man, wat toe effens skuins agter my was, gesê.
Ek is toe nuuskierig en loop toe vinniger om te kyk wat in die sakke is wat hulle so dophou. Teen die tyd wat ek die man, met die emmer en sakke inhaal, is ons al amper by die deur.
Die groot man loop toe vinnig verby my en gryp ‘n trollie en pyl op die oom met die sakke af en ry met die trollie in sy maag in.
Ek gil toe en op daai oomblik stamp iemand my van agter, want die groot man met trollie blok toe die deur. Met die stamp word ek toe teen die oom gedruk en al wat ek toe sien, is ‘n hand wat die oom se beursie uit sy sak vat.
Ek gil toe weer: “Jou beursie! Jou beursie!”
Ek gryp die hand en druk die beursie terug in die oom se sak. Die arme oom skrik toe so groot en stamp my toe voor die bors, want hy weet nie wat aangaan nie.
Ek sê toe vir hom hy moet net loop, die twee mans wil sy beursie steel en wys hulle uit.
Die kort man loop toe na die plante se kant en die groot man spring toe oor die muur en kruip agter die karre weg.
Net toe ek by die drankwinkel se hoek agter die gebou kom, sien ek weer die groot man agter die muurtjie uitkom. Hy skree vir die kleintjie: “Waar’s daai wit vrou? Jaag haar! Sy maak dit mos moeilik vir ons!”
Ek begin toe te hardloop na vriende se huis en hulle sit my agterna af in Kasteelstraat. Ek draai toe in Waterkanstraat af en hardloop vir dood!
Toe ek naby my vriende se huis kom, toe gil ek net hulle moet die deur oopsluit - teen daardie tyd het hulle verdwyn. Ek was in ‘n toestand.
Nou wil ek die vraag vra: Waar was die sekuriteit - daar is dan vier manne in diens? En is ‘n mens dan nie eens meer veilig in ‘n groot winkel nie?
Ek hoop die lesers wat dit lees, sal meer bedag wees, want onthou dit kan met enigiemand gebeur.
Besorgde kliënt
More
News
|