Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarliete rock

Paarliete rock
 
2007-01-18


’n JONG Afrikaanse rock-band van die Paarl gaan die land aan die brand speel met die uitreiking van hul eerste CD, Dreigementasie.

Die skoliere wat lid is van Hoppalongcasidy is reeds twee jaar druk besig om as ’n rock-band te oefen, en as daar na Dreigementasie geluister word, kan ’n mens sien dat al die harde werk begin vrugte afwerp.

Hierdie band bestaan uit vier Gimmies: Pierre van Zyl (16), kitaar en sang, Heinrich Volschenk (16) op tromme, Jurie Neethling (17) op kitaar en Ivan Scheepers (15) op bas-kitaar.

Heinrich en Jurie het toevallig ’n paar jaar gelede vasgestel dat hulle albei ’n liefde vir musiek het en kort daarna het Pierre en Ivan hul verskyning gemaak.

Verlede jaar was Hoppalongcasidy ’n semi-finalis in die skole-orkeskompetisie, Rockspaaider, en vanjaar beplan hulle om weer deel te neem met die oog op ’n oorwinning.

Dié melkbaard-manne se musiek is pure rock-plesier en word uitgevoer met duidelike musikale talent.

Pierre is die liriekskrywer en sy liedere bevat diep boodskappe oor die liefde, die lewe en die land. Dit is geensins sopperige, naïewe liedjies soos dié waarna die jongmense van vandag luister nie, maar bevat ’n boodskap waaroor die luisteraar lank sal nadink.

Hulle bly ook ver weg van ‘cover versions’ waarvoor jong musikante so lief is, en glo dat enige orkes sy eie unieke musiekstempel moet hê.

Dit vat egter baie dissipline om ’n gesonde skeiding te maak tussen musiek en skoolwerk. Hulle is almal vasbeslote om ewe veel aandag aan albei te skenk.

Hoppalongcasidy het groot drome oor hul toekoms en is vasberade om die band tot nuwe hoogtes te neem wanneer hulle eendag hul skoolloopbaan voltooi.

Vanjaar het vir hulle goed afgeskop, met ’n optrede verlede naweek by die gewilde Durbanville Kunskafee, en hulle sal op 24 Januarie weer hul verskyning daar maak.

Alhoewel hulle graag vanjaar al by Oppikoppi en die KKNK sal wou optree, het hulle besluit om nog ’n bietjie meer ervare te raak voordat hulle dié groot stappe doen.

Robyn Moorby van musiek-webwerf samusic.co.za het gesê dat met harde werk en deursettingsvermoë ’n belowende toekoms vir dié manne kan voorlê.

“Hul lirieke is lekker vars en tegnies is hulle goed, veral as jy hulle ouderdomme in ag neem. Hulle het hulself goed van hul taak in die ateljee gekwyt en kan trots wees op ’n goeie produk.”

Dit gaan die moeite werd wees om dié Paarliete dop te hou, want as hulle volhou met hul skeppende musiek, gaan hulle inderdaad nog eendag ver kom. Vir meer oor Hoppalongcasidy sien www.myspace.com/hacpunk of www.rhythm records.co.za of www.vetseun.co.za.
- Lise Beyers



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za