Rekenaars terug
2007-01-18
’n FOTO in die Paarl Post verlede week het daartoe gelei dat al die gesteelde rekenaars van Nieuwedrift Laerskool teruggevind is na ’n polisiejaagtog om die verdagte vas te trek.
Lesers het twee en twee bymekaar gesit nadat die foto geplaas is van ’n jong man wat verlede week voor die oë van die polisie ontsnap het, en hom gekoppel aan die diefstal van die nege rekenaars ter waarde van R48 000 op Oujaarsaand.
Die toerusting is aan die einde van verlede jaar aan die skool geskenk.
Die rekenaars is eers kort voordat die skole gesluit het, geïnstalleer, en leerders het uitgesien om in die nuwe jaar in die nuwe rekenaarlokaal te begin werk.
Die inbraak is oënskynlik goed beplan en die inbrekers het toegang tot die skoolterrein gekry aan die agterkant van die terrein.
Drie hekslotte is deurgeknip om ’n voertuig so na as moontlik aan die rekenaarlokaal te kry sodat hulle die gesteelde ware maklik kon laai en wegry.
Voorverlede Maandagnag is Stefan de Jager (22) en nog twee mans, Nico Visser (25) en Mark Malgas (32), in hegtenis geneem nadat hulle betrap is terwyl hulle vermoedelik petrol probeer steel het by die munisipale stoor in Distillerystraat, Paarl.
De Jager het met sy voertuig voor die Paarl polisiestasie weggejaag toe hy gevra is om die motor agter die gebou te parkeer.
Met die verskyning van De Jager se foto in die Paarl Post verlede week het die polisie verskeie oproepe van die publiek ontvang om te sê dat iemand wat lyk soos De Jager rekenaars aan hulle probeer verkoop het.
’n Op-en-wakker polisieman het egter reeds verlede Woensdagaand vir De Jager herken terwyl hy in Jan van Riebeeckrylaan gepatrolleer het.
De Jager het versuim om stil te hou, en ’n wilde jaagtog op sy hakke het vanaf Huguenot tot in Noorder-Paarl en terug na die middedorp plaasgevind.
Polisieversterkings het bygekom en later was altesame tien voertuie betrokke en De Jager is uiteindelik vasgetrek.
Maar nie voordat sy blou Toyota Conquest en ’n patrolliewa beskadig is nie.
By verdere ondersoek, en na verklarings wat De Jager glo die volgende dag self afgelê het, is al Nieuwedrift se rekenaars op verskillende plekke teruggevind.
De Jager word ook met verskeie ander sake van huisbraak en diefstal uit motorvoertuie verbind.
Hy is steeds in aanhouding en verskyn vandag weer in die Paarl Landdroshof.
* All the computers which were stolen from Nieuwedrift Primary, have been returned to the school.
More
News
|