Storm bars in Paarl los
2007-01-18
IN hoe ’n mate die uitgebreide span van die Boland Kavaliers vanjaar gaan vaar, sal Saterdag duidelik wees wanneer hy in twee opwarmingswedstryde teen die Stormers in die Paarl sal kragte meet.
Met Stormers-afrigter, Kobus van der Merwe, wat reeds aangedui het dat hy ’n sterk span vir Saterdag se wedstryd in die veld gaan stoot, behoort dit ’n goeie maatstaf vir die span van Wellington te wees.
Daar is sprake dat dié span die een gaan wees wat in die Stormers se eerste wedstryd teen die Cheetahs op Bloemfontein gaan uitdraf.
Danksy sy borg, Fidentia, het Boland Rugby met groot treë vordering gemaak in sy missie om die Curriebeker te wen.
Die unie spog tans met die tweede grootste poel spelers (60) ná die Blou Bulle, terwyl die verbeterde geriewe en salarisse uiteraard ook die span gehelp het om goed te slyp vir die komende seisoen.
Die wedstryd word op die Faurestraat Stadion in die Paarl gespeel aangesien die nuutgeplante grasoppervlakte van die Boland Stadion nog nie gereed is nie.
Volgens die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, is die groot fokus van Saterdag se wedstryd die uittoets van ’n verskeidenheid speler-kombinasies asook om die spelers soveel moontlik speelkans te gee.
In die Boland se A-span maak beide die vleuels John Daniels (Leeus) en Alshaun Bock (Griekwas) weer hul terugkeer tot die Boland.
Op losskakel maak Nel Fourie (Leeus) sy debuut vir die Kavaliers, terwyl die WP-haker, Hanyani Shimange ook vir die eerste keer vir die Boland sal uitdraf.
Nog ’n welkome gesig is dié van agsteman Chris Potgieter wat herstel het van die kuit- en dyspierbeserings wat hom in 2006 op die kantlyn gehou het.
In die B-span sal Jacques Badenhorst weer in aksie wees nadat hy die hele 2006 seisoen nie gespeel het nie, weens ’n laerug-besering.
Hy en Kobus Meintjies sal saam op senter in die middelveld kombineer.
Nog ’n verrassing is die insluiting van die Wellingtonner Frankie Horne as haker. Dié woelige flank het verlede jaar uitgeblink toe hy in die Opkomende Springbok Sewespan opgeneem is wat die Tusker Toernooi in Kenia gewen het.
’n Oorvloed aan losvoorspelers en ’n gebrek aan diepte op haker het die Boland se afrigterskorps genoop om Horne voortaan as haker te ontwikkel.
Dit is egter nie ’n posisie wat heeltemal nuut is vir Horne nie, aangesien hy op skool in die nommer twee-trui gesak het.
Nog ’n nuwe gesig is dié van Quinton Davids wat nou die Boland sy tuiste noem nadat hy eers vir WP en toe die Vrystaat gespeel het.
Die talentvolle flank Zolani Mofu wat ook al vir die Springbok Sewespan uitgedraf het, is ook van die Grens na Wellington gelok.
Die goeie vertoning van Monray Liebenberg (heelagter) en Chase Minnaar (flank) in die Boland o.20-span, wat verlede jaar onoorwonne was, het hulle ’n geleentheid in die senior span gegee.
Spelers wat nie vir die twee spanne oorweeg is nie, weens beserings, is Hennie Daniller (knie), Fabian Brandt (knie), Corrie Avenant (liesspier), Willie Bower (voet), Angelo Brinkhuys (dyspier), Renfred Dazel en Antonius Verhoeven (albei by die Springbok Sewes oefenkamp).
Die eerste wedstryd begin om 16:30 terwyl die hoofwedstryd om 18:00 afskop. Kaartjies vir die wedstryd is by die kantore van Boland Rugby asook by die winkels van Pêrel Sport in Lady Grey Straat en die Paarl Mall.
Boland A: Justin Peach, John Daniels, Piet van Zyl, Dewey Swartbooi, Alshaun Bock, Nel Fourie, Charl Blom, Chris Potgieter, Evert Kleyhaus, Conrad Burker (k), Piet Myburgh, David de Villiers, Tommy Dixon, Hanyani Shimange, Janro van Niekerk. Res: Pieter Wium, Andries Human, Henley du Plessis, Kobus le Roux/Roland Reid, Niel Papier, Jacques Schutte, Walter Venter.
Boland B: Monray Liebenberg, Pieter Stoffberg, Kobus Meintjies, Jacques Badenhorst, Alvin Hugo, Ossie Damons, Tewis de Bruyn, Francois Prinsloo, Sebastian Hilpert, Callie Wannenburg, Coenie Basson, Duimpie Theron, Pieter van der Merwe, Frankie Horne, Jané du Toit. Res: Clement Lewis, Hendrik Ferreira, Quinton Davids, Zolani Mofu/Chase Minnaar, Dewald Duvenhage, Thurlow Pietersen, Claude Arendse.
More
News
|