Dit kook net voort
2007-01-25
’n MENS sou nooit kon dink dat Drakensteiners sou uitsien na ’n dag met ’n voorspelde temperatuur van 30 grade nie.
Maar met dié week waar die kwik elke dag bo 40 grade gesweet het, is dit die geval.
Volgens die weerkantoor word daar vandag bewolkte weer met ’n temperatuur van 42 verwag. Môre sal die termometer by 32 draai, met Saterdag 33 en Sondag bewolktheid en ’n skrale 29 grade.
Volgens Carl Opperman van Agri SA ondervind landbouers nog geen probleme met die “akute hitte” nie.
Droëland wingerde kry wel swaar en indien die uitsonderlike warm weer te lank aanhou, kan vrugte begin skade ly. Dis veral druifsoorte soos Sauvignon Blanc wat sensitief is vir hitte.
Intussen daal damvlakke in die Boland vinnig. Wemmershoekdam het gesak na 65,5%, ’n 3% daling in ’n week van hitte.
“As ons nie so lam was van die hitte nie, kon ons die reëndans gedoen het,” het ’n Paarliet gesê.
Sy was ook een van die honderde inwoners wat na winkels met waaiers en lugverkoelers gehaas het om die hitte in hul wonings meer draaglik te maak.
Volgens ’n brandweerhoof ontvang die beheerkamer van die Drakenstein brandweer tot 20 oproepe om hulp te verleen by veldbrande.
Die grootste brande die afgelope dae was by Limietberg by Wellington, waar ’n helikopter gebruik is om die brand te keer, op die Franschhoekpas, plaasveld voor Paardeberg, by Saron en Kylemore.
Geen eiendom en lewensbedreiging nie, maar brandbestryders moes lang ure werk en self baie water inneem om die brande onder beheer te kry.
* The heat wave will not subside before Sunday, is the prediction of weather forecasters.
More
News
|