Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vandalisme sluit kliniek

Vandalisme sluit kliniek
 
2007-01-25

David Joshua

BYNA 2000 mense moet nou kilometers verder stap vir mediese hulp nadat die Hillcrest- kliniek by Wellington weens vandalisme moes sluit.

Voortdurende vandalisme, onvoldoende sekuriteit en die klaarblyklike onvermoë vanaf overheidskant om die probleem aan te spreek en doeltreffend op te los, het daartoe gelei dat die kliniek uit Tulpstraat gesluit het.

“Elke oggend word ons personeel begroet met die vieslike gesig van menslike ontlasting op die stoepe, waterpype wat afgesny is, toiletdeure wat afgebreek en toilette wat beskadig is. Daar was selfs al dooie honde voor die deure,” sê bevelsuster Audrey Sauls.

Vullis, stukkende kruidenierware-trollies en vuil, gebruikte matrasse word voor die kliniek gestort. Onder sulke omstandighede kan geen mens werk nie,” het Sauls gesê.

Die meer as 1600 pasiënte wat basiese gesondheidsorgdienste by die kliniek ontvang het, moet nou kliniek gaan besoek in Hospitaalstraat in Wellington.

Hier is die plek klein en akkommodasie min maar sy, sr Estelle Beukes, sr Sharon Kriel, verpleegster Christolene de Bruin en Tabi Ramatazana (administratiewe klerk) met hul sekuriteitswag, Sibongile Gwatyu, probeer steeds om die beste diens aan hul pasiënte te lewer.

“Ons het die Drakenstein Munisipaliteit en Provinsiale Administrasie Wes-Kaap (PAWK) in kennis gestel van die verwikkeling,” sê Sauls.

“Ek het ook eers aan my onmiddellike hoof sr Muriel Adams gerapporteer oor hierdie probleme en sy het Tommy Matthee, die verantwoordelike raadsamptenaar, verwittig.

“’n Verslag is aan hom deurgegee en hy het opdrag gegee dat die kliniek moes sluit.”

Personeel het die perseel verlaat op 17 November verlede jaar net voor die somervakansie, en alle roerende bates is uit die kliniek verwyder en deur hulle gestoor.

Ander probleme het ook bygedra tot die sluiting. Sauls sê dat wanneer sekuriteit jeugdiges aangesê het om nie dagga of tik op die perseel te rook nie en liewer die perseel te verlaat, het hulle ’n dreigende houding ingeneem. Wanneer die polisie in kennis gestel was, het hulle hulself uit die voete gemaak.

Toe Paarl Post Maandag die perseel besoek het, het daar wanorde op die perseel geheers. Die veiligheidshek was wel gesluit, maar die omheining was plek-plek afgetrap.

Van die ruite was flenters gegooi en die lugreëlaar, of dit wat daarvan oor was, was vernietig.

Die agterdeur was afgebreek, die vloere was bemors met menslike ontlasting, die warmwatersilinder is gesteel en die toilette en die handwasbakke met krane is verwyder.

Die opwasbak in die kombuis is afgeruk en beskadig, van die rakke is verwyder, kassies gebreek en die blindings is afgeruk en weggedra. Dit is duidelik dat iemand sy intrek geneem het.

Dié prentjie is baie ver verwyder van die berig wat einde verlede jaar in Paarl Post verskyn het oor die skoolseuns wat hul vrye tyd gegee het om die perseel skoon te maak.

Die Drakenstein Munisipaliteit het bevestig dat hulle wel besluit het om die Hillcrest Kliniek te sluit.

Matthee sê die gebou het gebuk gegaan onder deurlopende vandalisme en later die toestand bereik het waar dit nie geskik was vir die gebruik deur mense nie.

Die veiligheid van die gebou was ook ’n bron van kommer en jeugdiges wat voor en in die omgewing van die gebou rondgesit het, het ook die pasiënte/besoekers begin pla.

“Ons besef dat die sluiting groot ongerief vir die publiek wat dit gereeld gebruik het veroorsaak, maar die besluit is in belang van die gemeenskap en hul veiligheid geneem.

“Die publiek word aangemoedig om die Hospitaalstraat-kliniek te gebruik en ons vra om verskoning vir die ongerief wat die reëling vir hulle mag inhou.

“Die saak word intussen met Provinsie bespreek, maar alreeds is daar aanduidings dat ’n mediese sentrum in Van Wyksvlei in die omgewing van die biblioteek tans in aanbou is en ons hoop dat die projek spoedig afgehandel word ten einde die nood van die publiek aan te spreek asook die druk te verlig op Hospitaalstraat kliniek.”

Verder doen die Munisipaliteit ’n beroep op die gemeenskap om te help om te kyk na hul fasiliteite en diegene wat vandalisme pleeg aan te spreek en te rapporteer.

* The clinic in Hillcrest, Wellington, was closed after ongoing vandalism forced the personnel to relocate to the clinic in Hospital Street.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za