Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bergrivier eis twee lewens

Bergrivier eis twee lewens
 
2007-01-25

Lise Beyers

DIE Bergrivier het Sondag nog twee slagoffers geëis toe talle mense op die rivier toegesak het om van die versengende hitte in die Drakenstein-gebied te ontsnap.

Die eerste slagoffer het juis ’n kind van verdrinking gered, voordat hy self onder die waters verdwyn het.

Die tragedie het Sondag omstreeks 15:30 afgespeel, nadat verskeie kinders by die voetoorgangbrug langs die Bergrivier Boulevard in die moeilikheid geraak het.

Adéle Philander (12), Raymarsha Sharte (11) en Blanché Brits (10) van Groenheuwel, was tussen die hordes wat verligting gaan soek het in die Bergrivier.

Die meisies het egter in die water in die moeilikheid beland en het paniekbevange om hulp geroep.

“Dit het gevoel asof iets vir my aftrek en dan weer los,” het Adele gesê.

“Dieselfde het met my vriende gebeur. Ek was vreesbevange en het skielik my bewussyn verloor.”

Verskeie mense het gesien hoe hulle spartel en het hulle tot hulp gesnel.

Een van die weldoeners, Ceril Booyse (43), het daarin geslaag om vir Adéle uit die water te red nadat sy bewusteloos geraak het en onder die water verdwyn het.

Nadat die meisies almal na veiligheid gebring is en deur omstanders versorg is, het Booyse vermoedelik weer gaan swem.

Omdat daar so baie aandag op die meisies gevestig was, het niemand opgelet dat hy self in die moeilikheid beland het nie.

Booyse se jarelange vriendin, Angeline Cowley, het verdwaas vertel hoe, nadat al die drama verby was, sy na haar vriend begin soek het.

“Ceril was so lief vir die water en kon goed swem. Maar hy het net verdwyn. Ek het begin op-en-af hardloop langs die rivier, maar kon hom nie sien nie.

“Ek het vir een van die kinders gevra wat saam met ons was of hy nie vir hom gesien het nie en hy het gewys dat hy stroom-op geswem het, onder deur die brug.”

Nadat daar vermoed is dat hy verdrink het, is die polisieduikers ontbied om na Booyse te soek. Sy liggaam is kort daarna skuins onder die voetoorgang gevind.

Die tuisdiens vir Booyse is Saterdag om 08:00 by Piet-my-Vroustraat, Amstelhof, en die gedenkdiens om 09:00 in die AME-St Josephskerk, Paarl-Oos.

Adéle is in Paarl Medi-Clinic opgeneem vir vog op haar longe. Haar ma, Lillian, het gesê dat daar te veel mense Sondag in die rivier was en daar was geen beheer nie.

“Die rivier moet toegemaak word vir swem, want elke jaar verloor mense hul lewens hier. Ek is net dankbaar dat my dogter nie nog ’n statistiek geword het nie.”

Later die middag het die Bergrivier nog ’n slagoffer geëis. Dié keer ’n vierjarige seuntjie.

Randall Papier van Chicago, het saam met sy ma en pa naby die Langstraat-brug in die rivier gespeel, toe hy onder die water verdwyn het.

Sy ma, Michelle Papier, het eers drie minute ná sy verdwyning daarin geslaag om hom uit die water te red.

Hulle het met hom na die Paarl Hospitaal gejaag, maar Randall was egter met hul aankoms daar reeds dood.

Die geskokte bevelvoerder van die Paarl Polisie, supt Mwzandile Tiyo, en die munisipale bestuurder, Sidema Kabayane, het by die toneel ernstig oor ’n moontlike oplossing vir die tekort aan swemgeriewe en die beveiliging van die rivier gepraat.

* The Berg River claimed two more lives at the weekend.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za