Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarliete se gholf-drome word bewaarheid

Paarliete se gholf-drome word bewaarheid
 
2007-01-25

Leon Steenkamp

’n JONG gholfspeler van die Paarl is tans in Amerika besig om aan sy spel te slyp.

Jacquas Blaauw (20) het verlede naweek na die VSA vertrek waar hy die volgende vier jaar aan die Oklahoma City Universiteit gaan studeer danksy ’n gholf-studiebeurs.

Blaauw sal terselfdertyd professionele afrigting ontvang in die hoop
om sy droom om professioneel gholf te speel, te verwesenlik.

Hy het die afgelope twee jaar by ’n gholfwinkel in Bellville gewerk en in ’n verskeidenheid toernooie gespeel.

Blaauw wat in 2004 aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer het, volg in die voetspore van nog ’n Gimmie, Dawie van der Walt.

Van der Walt is al die afgelope drie jaar ’n student by die Lamar Universiteit in Texas. Met sy hulp het die universiteit se span groot opgang gemaak en onder meer verlede jaar in die nasionale kampioenskapstoernooi (National Collgegiate Athletic Association NCAA) gespeel.

Dit is die eerste keer in 20 jaar dat La Mar dié prestasie behaal.

Dawie se rondetelling van 281 oor vier dae was dan ook die laagste telling wat enige Lamar speler al in die toernooi behaal het.

Hy het individueel vierde gekom en Lamar na ’n gesamentlik negende plek gehelp.

Van der Walt is tans 12de op die nuut opgestelde Scrath Players World Amateur Ranking lys.

Dit is die eerste keer dat daar só ’n lys saamgestel is met die prestasie van amateur gholfspelers regoor die wêreld wat in aanmerking geneem word.

’n Soortgelyke ranglys het vroeër bestaan, maar het grotendeels net op Amerikaanse spelers gefokus.

Van der Walt het verlede week na Texas teruggekeer ná ’n kuiertjie by sy familie en vriende in die Paarl.

“Ek is nou baie naby daaraan om my graad in sakebestuur te voltooi en dan wil ek in Junie professioneel begin gholf speel,” vertel Dawie, en voeg by dat hy reeds met die idee gespeel het om verlede jaar al professioneel te begin speel.

Hy het egter besluit om tot Junie te wag, met die hoop dat sy universiteit-span dalk die nasionale kampioenskap kan wen.

“Ons span bly dieselfde vanjaar, so hopelik sal ons nog beter kan doen, miskien selfs wen.

“Lamar het nog nooit die toernooi gewen nie en dit sal lekker wees as ons dit vanjaar kan doen,” beskryf Van der Walt sy ideale afskeidgeskenk aan sy alma mater.

“My plan is om in Amerika te bly en in die somer - Junie, Julie, Augustus - toernooie te speel en dan terug te gaan universiteit toe om my laaste vakke klaar te maak. Aan die einde van die jaar wil ek na die PGA toerskool toe gaan.”

Van der Walt hoop nou om vir sy PGA spelerskaart te kwalifiseer en dan op die Nationwide-toer (’n trappie net onder die PGA-toer) te begin speel.

Sou sy planne hier deur die mat val, sal hy ook die Europese toerskool bywoon.

“Ek wil eers op dié toer begin, aangesien daar baie min ouens is wat na die PGA toer toe gaan en daar bly. Die meeste ouens kom maar van die nationwide- toer.”

Van der Walt se planne is om in Texas te bly en steeds by sy Lamar-afrigter, Brian White, klas te kry.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za