Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vreemde ligte verklaar

Vreemde ligte verklaar
 
2007-01-25


DIE vreemde ligte wat laasjaar oor plase by Wellington gesien is, het plaaslike amateursterrekundiges lekker laat kopkrap.

Hulle ondersoek om dit te probeer verklaar, het hul langs interessante paaie geneem - van son-aktiwiteit tot sterrereëns en spookligte waarvan party selfs verband hou met ’n afkop treinkondukteur!

Die artikel oor die vreemde ligte in Paarl Post van 7 Desember het die aandag getrek van lede van die Boland se sterrekunde-groep OOG (Orion Observasie Groep), Willie Koorts en Anton Marais van Wellington.

Hulle het eerstens die verduideliking van Aurora, wat in die artikel aangegee was, nagegaan.

Vir Aurora om plaas te vind, moes daar uitsonderlike hoë sonaktiwiteit gewees het op die datums toe die ligte opgemerk is.

Dit kan maklik geverifieer word op die webwerf www.spaceweather.com - ongelukkig was daar geen verhoogde sonaktiwiteit toe nie.

Net om seker te maak, het Willie ook die direkteur van die Son-observasie afdeling van die Sterrekundige Vereniging van Suid-Afrika, Jacques van Delft, gekontak.

Hy was ook nie bewus van enigiets abnormaals nie.

Daar is twee groot probleme met die Aurora-teorie. Aurora is normaalweg slegs naby die pole sigbaar en kom slegs in baie uitsondelike gevalle op ons breedtegraad voor.

Die son raak meer en minder aktief met ’n 11 jaar siklus en is tans op sy onaktiefste.

Sulke uitsonderlike aktiwiteit wat Aurora hier by ons sigbaar maak, kom slegs voor tydens maksimum sonaktiwiteit wat eers oor 5 tot 6 jaar gaan wees.

Die datums toe die ligte opgemerk was, stem nogal mooi ooreen met die tyd toe die Leoniedes sterrereën plaasgevind het.

Willie het daarom navraag gedoen by Tim Cooper, die direkteur van die Meteoor Afdeling van die Sterrekundige Vereniging van Suid-Afrika.

Hy kon bevestig dat daar geen uitsondelike sterrereën-aktiwiteit was wat dalk tot so ’n verskynsel kon aanleiding gee nie.

Weer eens is daar ’n klompie probleme met hierdie teorie. Die sterrereën vind eers ná middernag plaas en die ligte is elke keer vroegaand al gesien.

Verskietende sterre pas ook nie by die beskrywings van wat mense gesien het nie.

’n Ander interessante moontlike verduideliking is sogenaamde ‘spookligte’. Soortgelyke ‘Marfa Mystery Lights’ word gereeld sedert 1957 opgemerk naby Roete 67, oos van Marfa in Texas, Amerika.

’n Paar gruwelike stories het te doen met die ligte wat begin verskyn het na motor- en treinongelukke waar iemand se kop afgeruk is.

In die een geval kon hulle nooit die persoon se kop kry nie en word daar beweer dat dit sy laternlig is wat gesien word waar hy steeds na sy kop soek!

Dit is toe dat Anton te hore kom van ’n laser wat tydens die opening van die nuwe casino op Worcester gebruik was en Willie die casino bel en allerhande interessanthede blootlê.

As promosie het die casino ‘Skytracker lights’ (sien www.skytracker.com) gehuur tydens die opening.

Hierdie ligte is van 17 tot 28 November, elke aand van 20:00 tot middernag bedryf.

Die spookligte by Wellington was van 19 tot 23 November van 21:00 tot 22:00 gesien.

Dit is vier sterk spreiligte wat tot ’n dun straal gefokus is en roteer en ander formasies uitvoer, net soos wat vanaf Bovlei gesien is.

Een so ’n lig is 4000 Watt en trek meer krag as jou huis se geyser.
Dit skyn met ’n helderheid van 330 miljoen kerskrag en al vier saam is oor ’n miljart kerskrag!

Net die spesiale Xenon-lampie alleen kos meer as R10 000 om te vervang.

Dit is so skerp dat toestemming van die lugvaart owerhede verkry moet word om dit te bedryf.

Dit verduidelik dus hoekom die ligte tot aan die anderkant van die berg gesien kon word onder die regte omstandighede.

So, toe word die UFO ’n IFO (Identified Flying Object).



More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za