Resies op paaie
2007-01-25
EK rig nou my soveelste en laaste klagte aangaande die motorresies wat oor naweke gedurende middernagtelike ure op die N1 en soms op Klein Drakensteinweg naby Spes Bona Garage plaasvind.
Hierna moet diegene wat stilbly of meemaak aan die opwinding, die gevolge dra as geliefdes as gevolg hiervan sterf.
’n Paar jaar gelede, net na my een klagte, het ’n jong seun juis in Klein Drakensteinweg gesterf as gevolg van só ’n resies, maar nogtans gaan die vermaak op ons openbare paaie aan.
Met ons terugkeer vroeg Sondagoggend vanaf ’n byeenkoms in Tygervallei, moes ons by Spes Bona Garage deur ’n horde motors, wat weerskante van die pad op geelstrepe geparkeer was, deurvleg.
Mense het drankies in die pad geniet en by die vierrigtingstop van Klein Drakensteinweg en Sonstraalpad was motors besig om in sirkels (wat hulle Doughnuts noem) te jaag. Ons moes naby die stop wag tot hulle klaar was en ek het gebid dat een nie in ons vasjaag nie.
Dit wil voorkom of toeskouers aangery word, want daar was tot ’n toerbus teenwoordig!
Vir jare lê ek klagtes by die polisie in Paarl-Oos, want hulle kantore is omtrent 2 km van hierdie plek af. Tuis gekom het ek weer hul kantoor gekontak maar die lyn was beset.
Paarl-tak se beampte kon slegs in Engels kommunikeer en het darem gesê dat ’n voertuig uitgestuur sou word. Wat een voertuig kan uitrig, weet ek nie - dalk word dit ’n toeskouer vir die opwinding.
Niemand het iets gedoen nie en hierdie optrede van jaagduiwels gaan nog lewens eis.
A. Estherhuizen
More
News
|