Kompetisie vir skones
2007-02-01
DIE Miss Winelands 2007-kompetisie, is ’n splinternuwe welsynsprojek wat vanjaar die eerste keer gaan plaasvind.
Organiseerder Rietha Kruger sê die belangrikste rede vir die kompetisie is dat daar ’n bydrae gemaak gaan word om die lewe vir kinders te help beter maak.
Dit gaan nie net ’n skoonheidskompetisie wees nie.
“Die meisie wat hier as wenner gekies word, sal ’n meisie wees wat ’n passie het vir kinders, ’n meisie wat graag ander wil help om hulle lewenstandaard te verbeter, ’n ware dame met intelligensie, sprankelende persoonlikheid en wye algemene kennis.
“Daarmee saam moet sy ’n pragtige, goed versorgde meisie, met innerlike en uiterlike skoonheid wees.”
Deelnemers moet tussen 18 en 24 jaar oud wees - ’n meisie moet 18 wees op 8 Junie en nie ouer as 24 teen die einde van September nie.
Deelnemers mag nie korter as 1,7m wees nie en moet ’n goeie algemene kennis hê.
Sy moet in graad 12 wees of dit voltooi het.
Verder moet sy ’n Suid-Afrikaanse burger wees en verkieslik die volgende 15 maande in die Wes-Kaap woon, want die wenner sal pligte in hierdie area moet vervul.
Die wenner en haar twee prinsesse moet Engels magtig wees. Meisies mag nie getroud wees of kinders hê nie en hulle mag ook nie ’n kriminele rekord hê nie.
Onder die pryse is ’n Michel Herbelin horlosie van Viljoen Juweliers in Paarl Mall, produkte van Hannon for Hair, kostuumjuwele van Honey, pedikure en manikure van Dream Nails, en nog vele meer.
Die semi-finaliste en twee naaswenners sal ook pryse wen, die publiek ontmoet en liefdadigheidsorganisasies besoek en met hulle saamwerk.
Die twaalf finaliste sal die geleentheid kry om gemeenskapsdiens te doen in die sewe weke voor die gala-aand op Vrydag 8 Junie in die Paarlse stadsaal, waar die wenners gekroon sal word.
Dit sal ’n deftige geleentheid wees, waar die publiek tafels kan bespreek.
Inskrywingsvorms is vandag in die Paarl Post beskikbaar. Of skakel Rietha by 083-460-2324 of rietha@joss.co.za vir meer inligting.
More
News
|