Barok by La Motte
2007-02-01
DIE eerste konsert vanjaar in die reeks musiekkonserte op La Motte Wynlandgoed kombineer die kunstenaarskap van Duitse musici met die hartstog van Italiaanse en die finesse van Franse komponiste.
Saterdag speel die Baroktrio Così Facciamo werke van komponiste soos Frescobaldi, Monteverdi, Stradella, Couperin, Lully en Rameau.
Così Facciamo spesialiseer in die musiek van die sestiende, sewentiende en agtiende eeu, met Uwe Grosser en Hans Huyssen wat ’n outentieke luit/chitaronne en baroktjello onderskeidelik bespeel.
Die sopraan Stephani Krug is ’n gesogte solis van vroeë operas in Europa.
Sy het onder die beroemde Hanno Blaschke in München en aan die Mozarteum in Salzburg studeer.
Così Facciamo is in die 1990’s gestig deur voormalige studente by Nikolaus Harnoncourt se Salzburg-seminare oor historiese uitvoeringspraktyke.
Hierdie groep behoort tot die jonger geslag interpreteerders van vroeë musiek.
Hulle is in die bevoorregte posisie dat hulle voordeel kan trek uit die navorsing en massas kennis wat oor die jare versamel is deur die pioniers in die herlewing in antieke musiek.
Die ensemble kan in verskeie formasies optree, afhangende van die repertorium, wat strek van Renaissanceliedere met luitbegeleiding tot kontemporêre kamermusiek, asook volledige Barokoperas vir die verhoog.
Die uitvoering op La Motte begin om 19:00. Kaartjies, wat ’n ligte vingerete en uitgesoekte landgoedwyne insluit, is beskikbaar deur Anneke te skakel by 021-876-3119.
More
News
|