Goeie nuus vir behuisingsprojekte
2007-02-01
BEGUNSTIGDES van behuisingsprojekte 59 (Groenheuwel) en 2 (Mbekweni) het goeie nuus ontvang van raadslid Arthob Petersen, belas met behuising.
Petersen het verlede week ’n vergadering gehou om nuwe verwikkelinge aan begunstigdes te verduidelik.
Hy sê die oorspronklike bedrag vir projekhuise was sowat R31 000 vir ’n bo-struktuur van 36 vk meter sonder binnemure met slegs ’n ommuurde toilet.
Marnol Bouers, die kontrakteur vir die twee projekte, het nou ’n samewerkingsooreenkoms met Niall Mellon Township Initiative gesluit, wat sake aansienlik gaan verander.
Hiervolgens kry begunstigdes ’n teëldak met sonverhittingspanele vir die waterstelsel, binnemure vir twee slaapkamers, teëls in die kombuis met ’n wasbak en kassie, ’n stort en handewasbak in die badkamer, asook ’n tweede buitedeur.
Die waarde van dié ekstra voordele word geraam op sowat R12 000 per begunstigde.
Petersen sê Niall Mellon is ’n filantroop van Dublin, Ierland. Hy het sy eerste miljoen gemaak voordat hy 25 jaar was.
Hy het begin in die finansiële dienstesektor, en vandag het die Niall J Mellon Groep belange in eiendom, hotelle, vryetydsbesteding en geldbestuur.
Mellon het ’n vakansiehuis in Houtbaai gekoop en toe bewus geraak van die verskriklike armoede waarin groot gedeeltes van die gemeenskap woon.
Hy het reeds miljoene rand aan behuising geskenk en ook Ierse vrywilligers na Suid-Afrika gebring om te help met bouprojekte.
Nou het hy sy betrokkenheid na die platteland uitgebrei met inskakeling in die Paarlse projekte.
Petersen het sy blydskap oor die hulp uitgespreek: “Hierdie nuwe ooreenkoms kan mense net help om hul huise in ware tuistes te omskep.
“Dan kan kinders met selfrespek groot word en mense selftrots ontwikkel.
“Ek wil mense ook maan om hierdie huise as ’n lewenslange bate te sien. Hierdie huise moenie sommer verkoop word vir ’n vinnige inkomste nie.”
Intussen sê Petersen daar is ook gesprekke aan die gang om finansies te bekom sodat daar moontlik uit die staanspoor topstrukture gebou kan word vir die Drommedarisstraat-plakkers wat na die terrein langs die verkeersentrum in Groenheuwel moet skuif.
* A benefactor is to give a boost to local housing projects.
More
News
|