Amptenaar kry groot 'pakket'
2007-02-01
DIE Onafhanklike Demokrate (OD) in Drakenstein is sterk gekant teen ’n onlangse uitbetaling aan ’n voormalige personeellid, Criscando Retief, wat deur die ANC-beheerde munisipaliteit goedgekeur is.
Volgens ’n verklaring deur die onderburgemeester, raadslid Wilhelm Nothnagel (OD), het Retief ’n bedrag van R202 997 (R313 768 voor belasting) ontvang.
Retief is aanvanklik in die kantoor van die vorige ANC onderburgemeester, Anthea Sheldon, aangestel.
Toe die OD in Maart 2006 die onderburgemeesterpos oorgeneem het, was Retief met verlof.
Met sy terugkeer, was hy in diens van die vorige OD onderburgemeester, Jackie Noland.
“As ’n party kon die OD nie enige vertroue in Retief plaas nie, want ons het bewyse dat sensitiewe informasie oor die party uitgelek het,” het raadslid Nothnagel gesê.
“Retief is ook nie ’n OD lid nie en geen kontrak was onderteken nie.”
By ’n koukusvergadering van die OD is besluit om Retief uit sy pos te ontslaan, ingevolge ’n klousule in die kontrak wat hiervoor voorsiening maak.
“Ons het navraag by Korporatiewe Dienste gedoen oor sy kontrak waar die hoof, Khaya Mrali, ons meegedeel het dat hy besig is daarmee.”
OD raadslid Thulani Kompela het hom instruksies gegee om nie die kontrak te teken nie. Die OD het toe ’n afskrif van die ongetekende kontrak gekry.
Retief het hulle meegedeel dat hy ’n getekende kontrak by die huis het, waarop Mrali hom opdrag gegee het om dit te gaan haal en onmiddellik terug te bring. Dit was Vrydag 15 September.
Hy het die kontrak eers die Maandag by die munisipale bestuurder, dr Sidima Kabanyane, se kantoor ingehandig en weer die gebou verlaat.
“Hy het nooit kom werk of ’n siekbrief ingestuur nie. Ons moes toe verdere aksie neem en het ’n brief van ontslag aan hom oorhandig.
“Die verkeerde prosedure is gevolg met die oorhandiging hiervan, en dit is reggestel deur die brief aan die kantoor van die munisipale bestuurder te gee,” het raadslid Nothnagel gesê.
“Tot datum is daar geen bewyse van die sogenaamde getekende kontrak of wie dit onderteken het nie.
“Die OD is sterk gekant teen hierdie uitbetaling en sal dit ten alle koste teenstaan, al beteken dit ’n hofsaak.”
Volgens raadslid Nothnagel is die OD ook nie gekonsulteer oor die uitbetaling nie, ten spyte daarvan dat Retief aangestel was in die OD onderburgemeester se kantoor.
Volgens munisipale bestuurder dr Sidima Kabanyane is kontrakte wat met ondersteuningspersoneel geteken word, geldig is.
Hy het by navraag gesê dat die kwessie van die onderburgemeester se “onwettige” ontslag van Retief (dokumentasie is in Kabanyane se besit), asook die slotte wat verander is om te keer dat hy by sy werkplek kan kom, is na die Speaker verwys vir ondersoek en verslag aan die stadsraad.
Die munisipale bestuurder het daarna binne sy magte met Retief en sy prokureur/vakbond onderhandel oor wat neerkom op konstruktiewe ontslag en die beste moontlike ooreenkoms vir die raad gekry.
* The ID has objected to an official's“severance package” of R300 000 which was approved by the ANC Council.
More
News
|