Kaapse rowers ruk jong Paarliete
2007-02-01
Malané Bosman
VIER jong Paarlse mans is die naweek in Kaapstad deur gewapende rowers aangeval en van motors, selfone en beursies beroof.
Janie van Zyl, ook van die Paarl, het verlede week by ’n huis in Mowbray wat aan ’n familielid behoort, ingetrek om ’n ogie te hou terwyl hulle uitstedig is.
Saterdag om 19:30 was sy nog nie tuis toe haar vriende daar begin aankom het om in die swembad af te koel nie.
Mauritius de Klerk (25), soos sy vriende 'n oud-Boishaaier, het met sy nuwe Audi opgedaag.
“Mauritius het stilgehou en ek het die elektriese hek oopgemaak,” het Jacobus Blake onthou.
“Ons het almal nader gestaan om te groet en te help om ons motors dieper in die erf te trek om vir hom plek te maak.
“Toe hoor ons net hoe word gewere gelaai en mans skree dat ons hande in die lug moet staan.”
Vier rowers het op hulle afgestorm.
Toe hulle Mauritius se motorsleutels wou gryp, het hy dit oor die dak probeer gooi, maar dit het in die erf geland en die rowers kon dit bykom.
Met vuurwapens op hulle gerig, en dreigemente van dood, moes Mauritius, Jacobus, PC Blom en Herman Redelinghuys op die grond lę.
Een van die aanvallers het in die huis ingehardloop en van die tafel in die gang selfone, sonbrille en beursies gesteel.
Ook sy broer, Adriaan Blake, se kleresak het in die slag gebly.
Adriaan het skaars tien minute voor die aanval vertrek om sy vriendin te gaan haal.
“Ons moes net lę en ons oë toehou, ons mag nie na hulle gekyk het nie,” het Jacobus gesę.
“Toe hoor ons net hoe jaag een motor weg, en hoe word nog een uit die erf uitgetrek.”
Mauritius se wit Audi, en Herman se wit Golf (’n motorhawe-leenvoertuig terwyl sy eie motor herstel is) is gekaap.
“Alles het so vinnig gebeur,” sę Jacobus.
“Ek het gedink dis nou die einde. Ons ly nog steeds aan skok.”
* Four young men from Paarl fell prey to armed robbers in Mowbray, Cape Town, at the weekend.
More
News
|