Wolk hang oor stadsraad
2007-02-01
Susan Botha
PLAASLIKE munisipale politiek is in ’n harwar, met aanduidings dat die Onafhanklike Demokrate (OD) moontlik hulle steun van die ANC na die DA kan oorplaas.
Na verwagting kan ’n mosie enige dag by die Drakenstein stadsraad ingedien word wat die ANC uit die kussings kan lig.
Die ANC (26 setels) het verlede jaar die Raad oorgeneem met die steun van die OD (10). ’n Party of groepering het 31 van die 61 sitplekke op die raad nodig vir ’n volstrekte meerderheid.
Indien die ANC die OD-steun verloor, beteken dit dat hulle al die kleiner partye nodig het om beheer te behou: dus die WCC (2), ACDP (1), FD (1) en die Vryheidsfront Plus (1). In dié stadium lyk dit onwaarskynlik dat dit sal gebeur.
Meer waarskynlik is dat die DA (20 setels) saam met die OD (10) nog een raadslid se steun (waarskynlik die VF Plus) kan kry om beheer oor te neem.
Die ongemaklikheid tussen die ANC en die OD kom van hoofbestuursvlak en het reeds gelei tot konflik in ten minste twee munisipaliteite, Breedevallei (Worcester) en Bergrivier (Piketberg-streek).
Intussen is daar ook onweerswolke op die horison vir die Onafhanklike Demokrate in Drakenstein. Sedert die munisipale verkiesing in 2006 was daar gerugte van ongelukkigheid binne die party plaaslik oor gebrek aan konsultasie tussen die party en lede.
Nou lyk dit of die kwessie tot ’n uitbarsting kan kom, met ’n wegbreek-faksie wat hul nood gaan bekla by Sydney Mufamadi, die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering. Hulle is ook besig met ’n petisie teen van die huidige OD-raadslede.
“Ons weet nie wat om vir kiesers te sê nie,” het OD-lid Chris Thole gesê.
Nog een van die ontevredenes, Nico Pietersen, wil die kiesers onvoorwaardelik om verskoning vra.
Volgens hulle is die mense wat die meeste stemme behaal het in die verkiesing, nie in die stadsraad nie.
Joe Mcgluwa, nasionale organiseerder van die OD, sê die politieke wil ontbreek by mense om demokrasie te verstaan. Hy sê die betrokkenes het ’n onderneming onderteken om nie pers toe te gaan met hulle klagtes nie.
“Hulle optrede kan daartoe lei dat hulle geskors word.” Hy het ook ’n beroep op kiesers gedoen om nie ag te slaan op gerugte nie.
* A cloud hangs over the Drakenstein Town Council with the threat that the ID might desert the ANC coalition.
More
News
|