Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Daljosa(vark) stadion

Daljosa(vark) stadion
 
2007-02-01

Leon Steenkamp

DIE haglike toestand van die Daljosafat stadion het weer eens atletiekorganiseerders warm onder die kraag.

Die Hoërskool La Rochelle het Donderdag sy kleursportbyeenkoms by dié stadion gehou.

Die sowat 500 onderwysers, kinders en ouers moes almal regkom met slegs vyf werkende toilette. Die orige 25 toilette is toegesluit vir herstelwerk.

Gebreekte wasbakke, uitgeskopte deure, gesteelde waterpype en uitgerukte ligte - die werk van vandaliste - is oral te sien.

Daar hang die allervreeslikste stank oor die paar toilette wat nog in werking is.

Toe beamptes om 06:30 op die dag van die byeenkoms by die stadion arriveer, was daar ’n span loodgieters aan die werk.

Die stopkrane was toegedraai en die stadion was tot 09:30 sonder water, op ’n dag waar die kwik tot 40°C gestyg het.

Geen atleet kon ’n slukkie water geniet of ’n toilet trek totdat dié werk nie afgehandel is nie.

Daarby moes daar gesmeek word voordat die diskusnette, ook op die nippertjie, opgerig is. Nuwe diskusnette is verlede jaar vir R40 000 aangekoop. Die nette lê al sedert November by die stadion.

Toe terreinpersoneel verlede week die nette oprig, het hulle ontdek dat dit nie pas nie, en moes die ou nette gelap en weer opgehang word.

Die snoepwinkel is in ’n ewe haglike toestand. ’n Vuil, vetterige laag bedek die mure en selfs nadat ’n munisipale skoonmaakspan, weer eens op die nippertjie, daar ingestuur is, moes die skoolpersoneel dit met ’n beroker ontsmet.

’n Lekkende pyp en gebreekte stopkraan maak dat water deurgaans in die omgewing van die wenstreep uitloop en die omringende veld in ’n moddermoeras omskep. Dit is ’n situasie wat die afgelope maande blykbaar geen aandag geniet het nie.

Wat die personeel van La Rochelle veral kwel, is die komende 4M Atletiekbyeenkoms.

Dié groot byeenkoms tussen La Rochelle, Hoër Meisieskool Paarl, en die twee Stellenbosse skole, Rhenish en Bloemhof, lok elke jaar groot getalle toeskouers.

La Rochelle is vanjaar op Daljosafat stadion die gasheer van die byeenkoms. Die vraag wat nou gevra word, is of die 15 000 toeskouers almal die werkende vyf toilette sal moet deel.

Wat die organiseerders grief is die feit dat hulle al einde verlede jaar die stadion besoek het en die nodige herstelwerk en tekortkominge aan die terreinbestuurder uitgewys het, met die oog op die 4M byeenkoms.

Dié herstelwerk was ’n dag voor die kleursport-byeenkoms nog nie gedoen nie.

Van die instandhoudingswerk is wel die aand voor die byeenkoms gedoen, ’n situasie wat hom al voorheen afgespeel het.

Die situasie krap byeenkomsorganiseerders se planne heeltemal deurmekaar en veroorsaak oneindige frustrasies.

“Die vergelyking word gemaak tussen Coetzenburg en Daljosafat stadion. Die Stellenbosse skole is reeds gerat om die byeenkoms elke jaar daar aan te bied, as die probleme hier in die Paarl bly voortwoed,” waarsku Mariana Schoeman, La Rochelle se atletiekorganiseerder.

Sy verwys na die laaste keer toe HMS die byeenkoms aangebied het, en die skool uit sy eie sak moes betaal om die stadion in ’n relatief begaanbare toestand te kry.

“Ek wil my nie skaam vir die Paarl nie, ek’s lief vir my dorp.”

In antwoord op die klagtes, is die Drakenstein Munisipaliteit erg verleë en verskonend.

“Die departement stem saam dat die situasie onaanvaarbaar is,” sê Tommy Matthee, waarnemende hoof van gemeenskapdienste.

“’n Interne ondersoek sal moet bepaal wat skeefgeloop het en wie te blameer is”.

Volgens Matthee word gebreke nagegaan en herstelwerk gedoen.

* The Drakenstein Municipality has apologised for the poor condition of the Dal Josaphat athletics stadium.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za